Gedig deur DJ Opperman
Klara Majola
Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader
maar Klara Majola het verdwaal
Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok
Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.
++++
Hier volg die storie oor Klara.
Klara – Pappa se klein Sneeuvlokkie..
(Volgens 'n berig in Die Burger op 31 Julie 1950.)
Klara is 'n klein dogtertjie, net 8jaar oud en woon saam met haar Mamma en Pappa op ' plaas, Die Eike, van Ernst van Dyk. Knus toegevou lê die vallei in die Agter Witzenberg in die Koue Bokkeveld net buite Ceres.
Dit is Julie. Dit is Winter en bitter koud. Kapok word voorspel vir die nag.
Klara se Mamma gaan na 'n buurplaas terwyl Klara en haar Pappa by die huis bly. Klara se Pappa is blind en dit is klein Klara se gewoonte om hom op die plaas rond te vat en ook na plekke te lei waar hulle hout kan optel vir die vuur wat Mamma maak by die huis om hulle warm te hou en waarop sy kook.
Omdat dit so bitter koud was, het klein Klara die dag by die huis gebly en haar Pappa het alleen die veld ingeloop om hout te gaan soek. Later, toe dit al laat is, word Klara bekommerd oor Pappa wat nog nie terug is nie en besluit om hom te gaan soek voordat Mamma terug is van die buurplaas. Sy het gesoek en geroep en met 'n klein hartjie wat bons van bangheid vir die naderende donker, het Klara baie dapper steeds bly soek na haar Pappa wat so lief is vir haar.
Maar vir Pappa kon sy nie kry.
Toe Klara se Mamma by die huis kom en sien dat hulle nie daar is nie, het sy begin rondvra of hulle nie dalk by iemand se vuur kuier nie, maar niemand het van hulle geweet nie. Mamma het van die ander plaasmense gekry om te help soek. Heelwat later het hulle vir Pappa gekry, maar die kleintjie was nie by hom nie. Eers in die vroeë oggendure het hulle vir Ernst van Dyk gaan wakker maak en hy het onmiddelik 'n soektog begin na die klein dogtertjie.
'n Ruk later, in die bitter koue van 'n Koue Bokkeveld-oggend, is haar verkluimde lykie op 'n pad gekry.
Klara het vermoedelik gegly op die gladde klippe en geval. Haar lyfie was te moeg en koud om op te staan. Sy het in die water geval en verdrink.
Klein Klara lê met haar een armpie onder haar lyfie en die ander handjie in haar mond.
ek het hierdie stuk dmv google gekry, dit was oorspronklik op Woes, maar is nie meer daar te sien nie.