“Nou waar gaan die oom dan met daardie byl?” vra Letitia vir haar mamma toe hulle van die ontbyttafel af opstaan en sy by die agterdeur gaan staan. Haar woorde fluister saam met die blare en word opgetel deur die wind. Sy onthou; dáárdie dag klou verbete aan haar verhemelte vas. Sy probeer dit uitspoeg, maar elke keer proe sy weer die vrees...voel sy die koue knyptang wat haar hart met doringdraad vasbind.
“Hy wil daardie droë stompe gaan opkap. Die kas langs die houtstoof is amper leeg.” Truia gaan staan langs haar waar sy net-net oor die onderdeur na buite kyk en voel weer waardering vir haar skoolvriendin se man wat vir 'n paar dae in die verwaarloosde rondawel kom wegkruip.
Letitia dink aan die oom se oë wat so min kere lag. Sy stem is grof, net soos sy vingers wanneer hy haar hand vat as hulle by die hek vir die skoolbus gaan wag.
Truia wonder weer oor die troebel waters in Letitia se oë. Onthou dat, vandat sy twee weke gelede in trane van die skool af tuisgekom het, sy al die gevoel gekry het dat daar meer agter haar kind se trane steek, as wat sy vertel het. Kwansuis deur 'n maat gepootjie en op haar knie geval.
Doef! Doef!
Letitia ruk toe die eerste houe val en kyk dan op na haar ma.
“Mamma, hoekom lag die oom dan nooit soos Pappa gedoen het nie?” Truia kyk verstom af na haar kind. Hoe is dit moontlik dat sy vergeet het hoe oplettend 'n kind kan wees? Sy gaan weer langs die tafel sit.
“Oom Schalk dra 'n seer onthou in sy hart, daarom dat hy so bot lyk.”
“Wie het hom seergemaak?” Sy kom staan langs Truia.
“Hy het ook 'n dogtertjie gehad...'n jaar ouer as jy. Maar sy en haar mamma leef nie meer nie.”
“Is hulle saam met Pappa in die Hemel?” Haar mamma glimlag treurig as haar oë 'n bietjie begin blink.
“Ja. Hulle is daar,” sê sy en gee vir Letitia 'n drukkie.
“Het 'n slang hulle ook gebyt...gepik?”
“Nee, iemand het by hulle ingebreek toe hy nie daar was nie. Die slegte mense het hulle toe baie seergemaak.” Letitia dink 'n rukkie.
Die bylhoue klink doef-doef-doef.
“Het die slegte mense hulle met 'n byl gekap?” vra die kind skielik.
“Met 'n byl? Nou waar sou jy nou aan so 'n idee kom?” Letitia draai terug deur toe.
“Sommer gewonder.”
En toe, ’n paar dae later lui die telefoon. Truia kom van die hoenderhok af en haas haar om te antwoord.
“Mev. Lange, kan jy asseblief skool toe kom?”
Haar palms is natgesweet. Letitia spring op en storm op haar af. Sy druk die snikkende kind styf vas en kyk vraend na die hoof en nog ’n man. Hulle groet. Laasgenoemde is Letitia se wiskunde-onderwyser.
“Mevrou, ons het hierdie in jou kind se boeketas gekry.”
Sy herken die kleiner byl waarna hy op die lessenaar wys. ’n Duisend gedagtes flits deur haar kop, maar sy is stom; haar verstand weier om haar te laat praat.
“Een van haar maats het dit gesien en aan Mnr Wietz hier, vertel.”
Truia gaan sit met Letitia op haar skoot.
Sy vee haar kind se trane met haar hand af en vra saggies:
“Hoekom?”
Hulle kan ’n speld hoor val.
Dan kom Letitia se fluisterstem:
“Ek wou sy hande afkap as hy my weer vryf waar Mamma gesê het niemand mag aan my raak nie.”
Truia voel naar. Die skoolhoof kyk van die een na die ander en wonder hoekom mnr. Wietz so verbleek.
“Wie?”
Stadig, maar met ‘n vaste handjie, wys Letitia in sy rigting... na die gesig van haar donkere vrees...
haar wiskunde-onderwyser.