Die Rimpel Effek…
Dit neem haar ses jaar, na ‘n baie traumatiese egskeiding, om haarself weer op te trek. Ses jaar waarin sy emosies en issues moes verwerk. Waarin sy mense wat haar lewe verwoes het, moes vergewe. Ses jaar waarin sy vanaf ‘n vrou in sak en as tot die posisie wat sy tot ‘n paar dae gelede beklee het, met harde werk, lojaliteit, weke se oortyd (sonder enige betaling of ‘n klop op die rug), haarself tot by hierdie posisie opgetrek het.
In een verwoestende, dodelike, pynlikskokkende paar minute word ‘n boodskap oorgedra wat haar weer tot in die modder laat tuimel.
‘n E-pos word uitgestuur na die personeel by die Kaapstad en Durban takke dat ‘n vergadering van 4 ure geskeduleer is by diè twee takke op die 2de Mei. Sy skarrel om die kantoor netjies te kry, silwerskoon handdoeke uit te sit, te sorg dat almal se smaakorgane nie teleurgestel sal word nie, vrolike geel madeliefies op die tafel. Die perkoleerkoffie se geur deurtrek die kantoor en heet almal welkom.
Rondom die konferensie tafel neem almal solank plaas. Sy moet net gou nog die skakelbord deurskakel na Hoofkantoor in Midrand. Toe sy die konferensie-saal binnestap, staan ‘n stoel gereed vir haar direk aan die regterkant van die MD van hierdie afdeling van die maatskappy. Sjoe, aan die regterkant terwyl die res van die personeel die ander stoele vul? Dit voel so … spesiaal!
‘n Skyfie-vertoning oor ‘The Way Forward ‘ en ‘Business Rationale for Restructuring’ en ‘Centralisation, en ‘What does this mean?’ word op die doek gegooi… Haar hart ruk. Sy begin sluk aan die vrees, aan die woorde wat begin swem, later kyk en luister sy nie meer. Dit is voor die hand liggend, haar pos is in gedrang.
Nog later, nadat koffie deur haar bedien is, word die personeel een-een ingeroep. Die res sit en wag om hul lot aan te hoor. Dis somber in die kantoor. Sy het oorgegee aan emosie. Die wêreld tuimel en sy gaan een van diè wees wat gaan afval. Bevestigend.
Maar, ‘don’t worry, we have come with a solution for you’ word sy mee gepaai. ‘We have decided to bring you to Johannesburg to fill a position at Head Office.’ Sy weier. Hoe kan hulle van haar verwag om haar te ontwortel en vir ‘n veel minder salaris te gaan werk? Of is dit net om hul beeld by haar te verfraai? Hulle kan dit amper nie glo dat sy dit weier nie. Met die groetslag word sy vasgehou en voor gesê: ‘Remember, I love you very much’, maar ‘love you very much’ betaal nie haar huur. Dit laat nie die stigma aan ‘werkloos’ verdwyn nie. Dit gaan nie finansies verskaf wat moet betaal vir ‘n daaglikse bestaan, mediese kostes nie.
Wiè is die goddelike man, of vrou, wat besluit het sy, onder andere, is nou oorbodig? Wie het besluit dat sy maar ‘n nuwe toevoeging tot statistiek van Werkloos kan wees? Wie, indien enige, het baklei vir haar, vir haar trots om aan die maatskappy te behoort, ‘n werknemer te wees?
Niemand sal verstaan wat Retrenchment aan jou doen as jy dit nog nie ervaar het nie. Jy sal nie weet hoe dit voel as wins en geld in die base se sakke baie swaarder weeg as jou maandelikse salaris nie. As jaarlikse bootreise na eksotiese plekke, vlugte na die Midde-Ooste, Malaysia, Kanada, die Middelandse See…. meer vir jou beteken as die trots van ‘n werk van een van jou ‘klase’.
Hoe verduidelik sy aan hierdie BEE-hive besitters dat EEN salaris ‘n hele paar mense daarna kan help op ‘n beter lewe? Hoe verduidelik sy aan hierdie mense dat die bydrae tot selfs die skoonmakers van die kantoor, asook haar huis, help betaal aan skoolgeld, kos, verblyf, klere in die gemeenskap? Dit raak selfs die pensioenaris wat die toebroodjies aan die personeel verkoop en die wins daaruit bydra tot sy daaglikse bestaan. Gee hulle om?
‘n Totale ongeloof is op almal se gesigte en in almal se stemme wat haar skakel om hul simpatie, of is dit empatie? aan haar oor te dra.
As hulle maar net gewaarsku was, maande gelede al, dat daar ‘n moontlikheid is dat dit kan gebeur, dan het sy nie groot geskenke gekoop vir haar twee kinders wat oor ‘n week trou nie, dan het sy nie soveel spandeer aan ‘n nuwe uitrusting nie, dan het sy nie…. Dan het sy….. Maar niemand het gesê nie, niemand het vermoed nie. Wie sou in elk geval dink so-iets is moontlik in die maatskappy wat so vinnig uitbrei na Kanada, Sub-Sahara? Hoe sou sy, en die res, kon weet dat die senior bestuur al maande lank om ‘n tafel sit en besluite neem wat haar direk raak?
En aan die einde van Mei 2012 sal die deur agter haar toeklap. Die deur wat sy elke oggend eerste oopgesluit het, saans toegesluit het nadat almal weg is. Die deur na die kantoor wat haar huis was toe sy geen ander huis gehad het nie. Die plek waar sy veilig was, sy veilig gevoel het. Haar hawe…
Die wereld het gekantel en sy val.
Sy val alweer.
En onder……. hang daar geen vangnet waarop sy veilig kan land.
©Elsabé