Author Topic: Die Rimpel Effek...  (Read 18692 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Die Rimpel Effek...
« on: May 06, 2012, 12:11:20 PM »
Die Rimpel Effek…

Dit neem haar ses jaar, na ‘n baie traumatiese egskeiding, om haarself weer op te trek.  Ses jaar waarin sy emosies en issues moes verwerk.  Waarin sy mense wat haar lewe verwoes het, moes vergewe.  Ses jaar waarin sy vanaf ‘n vrou in sak en as tot die posisie wat sy tot ‘n paar dae gelede beklee het, met harde werk, lojaliteit, weke se oortyd (sonder enige betaling of ‘n klop op die rug),  haarself tot by hierdie posisie opgetrek het.
In een verwoestende, dodelike, pynlikskokkende paar minute word ‘n boodskap oorgedra wat haar weer tot in die modder laat tuimel.
‘n E-pos word uitgestuur na die personeel by die Kaapstad en Durban takke dat ‘n vergadering van 4 ure geskeduleer is by diè twee takke op die 2de Mei.  Sy skarrel om die kantoor netjies te kry, silwerskoon handdoeke uit te sit, te sorg dat almal se smaakorgane nie teleurgestel sal word nie, vrolike geel madeliefies op die tafel.  Die perkoleerkoffie se geur deurtrek die kantoor en heet almal welkom.  
Rondom die konferensie tafel  neem almal solank plaas.  Sy moet net gou nog die skakelbord deurskakel na Hoofkantoor in Midrand.  Toe sy die konferensie-saal binnestap, staan ‘n stoel gereed vir haar direk aan die regterkant van die MD van hierdie afdeling van die maatskappy.  Sjoe, aan die regterkant terwyl die res van die personeel die ander stoele vul?  Dit voel so … spesiaal!
‘n Skyfie-vertoning oor ‘The Way Forward ‘ en ‘Business Rationale for Restructuring’ en ‘Centralisation, en ‘What does this mean?’  word op die doek gegooi…  Haar hart ruk.  Sy begin sluk aan die vrees, aan die woorde wat begin swem, later kyk en luister sy nie meer.  Dit is voor die hand liggend, haar pos is in gedrang.  
Nog later, nadat koffie deur haar bedien is, word die personeel een-een ingeroep.  Die res sit en wag om hul lot aan te hoor.  Dis somber in die kantoor.  Sy het oorgegee aan emosie.  Die wêreld tuimel en sy gaan een van diè wees wat gaan afval.  Bevestigend.
Maar, ‘don’t worry, we have come with a solution for you’ word sy mee gepaai.  ‘We have decided to bring you to Johannesburg to fill a position at Head Office.’   Sy weier.  Hoe kan hulle van haar verwag om haar te ontwortel en vir ‘n veel minder salaris te gaan werk?  Of is dit net om hul beeld by haar te verfraai?  Hulle kan dit amper nie glo dat sy dit weier nie.  Met die groetslag word sy vasgehou en voor gesê:  ‘Remember, I love you very much’,  maar ‘love you very much’ betaal nie haar huur.  Dit laat nie die stigma aan ‘werkloos’ verdwyn nie.  Dit gaan nie finansies verskaf wat moet betaal vir ‘n daaglikse bestaan, mediese kostes  nie.
Wiè is die goddelike man, of vrou, wat besluit het sy, onder andere,  is nou oorbodig?   Wie het besluit dat sy maar ‘n nuwe toevoeging tot statistiek van Werkloos kan wees?  Wie, indien enige, het baklei vir haar, vir haar trots om aan die maatskappy te behoort, ‘n werknemer te wees?
Niemand sal verstaan wat Retrenchment aan jou doen as jy dit nog nie ervaar het nie.  Jy sal nie weet hoe dit voel  as wins en geld in die base se sakke baie swaarder weeg as jou maandelikse salaris nie.  As jaarlikse bootreise na eksotiese plekke, vlugte na die Midde-Ooste, Malaysia, Kanada, die Middelandse See…. meer vir jou beteken as die trots van ‘n werk van een van jou ‘klase’.  
Hoe verduidelik sy aan hierdie BEE-hive besitters dat EEN salaris ‘n hele paar mense daarna kan help op ‘n beter lewe?  Hoe verduidelik sy aan hierdie mense dat die bydrae tot selfs die skoonmakers van die kantoor, asook haar huis, help betaal aan skoolgeld, kos, verblyf, klere in die gemeenskap?  Dit raak selfs die pensioenaris wat die toebroodjies aan die personeel verkoop  en die wins daaruit bydra tot sy daaglikse bestaan.   Gee hulle om?  
‘n Totale ongeloof is op almal se gesigte en in almal se stemme wat haar skakel om hul simpatie, of is dit empatie? aan haar oor te dra.  
As hulle maar net gewaarsku was, maande gelede al, dat daar ‘n moontlikheid is dat dit kan gebeur, dan het sy nie groot geskenke gekoop vir haar twee kinders wat oor ‘n week trou nie, dan het sy nie soveel spandeer aan ‘n nuwe uitrusting nie, dan het sy nie….  Dan het sy…..  Maar niemand het gesê nie, niemand het vermoed nie.  Wie sou in elk geval dink so-iets is moontlik in die maatskappy wat so vinnig uitbrei na Kanada, Sub-Sahara?  Hoe sou sy, en die res, kon weet dat die senior bestuur al maande lank om ‘n tafel sit en besluite neem wat haar direk raak?  
En aan die einde van Mei 2012 sal die deur agter haar toeklap.  Die deur wat sy elke oggend eerste oopgesluit het, saans toegesluit het nadat almal weg is.  Die deur na die kantoor wat haar huis was toe sy geen ander huis gehad het nie.  Die plek waar sy veilig was,  sy veilig gevoel het.  Haar hawe…

Die wereld het gekantel en sy val.  
Sy val alweer.
En onder…….   hang daar geen vangnet waarop sy veilig kan land.  

©Elsabé
 

« Last Edit: May 06, 2012, 02:30:29 PM by Angelica »
elle

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #1 on: May 06, 2012, 02:16:35 PM »
 :crybaby2:
Goeie donner...



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #2 on: May 06, 2012, 08:26:18 PM »
Hier waar ek sit, snik ek my hart uit!  Ek is totaal en al oorbluf!  JY wat elke greintjie menswees vir jou werkgewers gegee het, wat alles in jou vermoë gedoen het om hulle besigheid op die hande te dra en verhef het, wat gelewe het vir jou werk!  Hoe kan dit moontlik wees?  Dit  STINK  na STANK  vir  DANK
en ek hoop 2 miloen luise maak nes in hul armholtes en elke ander plek waar hulle hare op hulle lywe het!
Ek is verslae!
Matertjie, ek is so jammer oor die vorige bydrae, as ek eers hier gelees het sou ek verstaan. 
Dit is 'n gatslag!  Om die minste daarvan te sê!
Om te weet is om te verstaan.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #3 on: May 07, 2012, 09:37:19 AM »
en hier sit ek weer en ek lees weer die woorde wat so uit jou hart rol en ek het nie woorde nie. 
Ek weet net, sowaar as wat padda manel dra, daar  SAL  vir jou 'n uitkoms wees. 
Matertjie, hou moed, jy is 'n sterk mens en jy sal weer bo uitkom.  Moenie toelaat dat sulke ongediertes jou weer afgooi tot in die modder nie.  Ek weet dit is maklik vir my om te praat, dus gaan ek nou maar my bek hou.   :crybaby2:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #4 on: May 07, 2012, 07:58:07 PM »
  ek lees....sal vir jou epos  kan nie iets sê wat kan deel hoe magteloos ek voel as ek jou bietjie wil ondersteun nie.

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #5 on: May 08, 2012, 12:40:08 AM »
Ek wens dat woorde vlerke kon kry dan het ek nou hierdie drukkie self gaan gee matertjie. Die knop in my keel het al hoe groter geword ... 'n jaar of wat gelede het een van die naambrandreuse ons oudste seun ingeroep en hy het dieselfde boodskap gekry as wat jy hier so pynlik beskryf het.  Die hel en vrees, duisend onbeantwoorde vrae oor hoe nou verder, waar nou verder ... kan mens net in geheel verstaan as jy self deur hierdie trauma moes worstel :crybaby2:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #6 on: May 08, 2012, 03:40:46 AM »
Dit voel soos om te rou.
Ek moet afskeid neem van dit waarvoor ek bietjie gelewe het die afgelope 7 1/2 jaar.
My werk was my behoud in 'n tyd en lewe toe alles niks geword het. 
Dis moeilik om te verduidelik.  Die ongeloof oor die wreedheid van my medemens le so vlak in my bors, in my keel, my gedagtes... Dit oorheers byna rasionaliteit.
Gelukkig is ek baie besig met die finale vasknoop van al die los draadjies van die troue wat nog fladder.  Moet net byvoeg, die stress level is nou hoog ook daarmee.  Maar ons glo die naweek gaan wonderlik wees.  Vrydag gaan almal Bonnievale toe ry om die venue se 'make-up' te gaan doen, dress rehearsal en my twee kinders word gedoop in die rivier deur my boetie wat ook die troue gaan lei.  Ek het hom gewaarsku dat ek sy nek sal breek as hy hulle gaan versuip in die Breederivier.  So, sy lewe hang aan 'n draadjie.  Saterdag die troue.  Sommer van so vroeg as 13:00 tot middernag, want dan maak die bar toe. Smile..  Sondag het ons 'n brunch en die troukoek word daarna ge-eet, want dit is ook Moedersdag en al die moeders saam gaan nie so geseend  wees soos ek wat 'n dogter ryker geword het nie. My ou moeder (89) sal die koek sny en uitdeel.
Verder is daar finansiele dinge word gekanselleer, uitgesorteer moet word, want, sien ek gister, ons kry einde Mei net 'n halwe salaris.  Dan kry ons eers weer aan die einde van Junie ons laaste bietjie.
Positiewe dinge:  Ek mag 4 dae afvat sonder om verlof in te sit, dit sal ook uitbetaal word.  My CV word bietjie opgetert.  Gratis counseling. Een gratis kurses van my keuse.  Ek word elke dag besoek deur Bev, HR se baie simpatieke verteenwoordiger.  Bring it on, julle maaifoedies.
Ek gaan vir my eerste onderhoud volgende week.  Hou duimvas dat ek die werk sal kry al is die salaris baie minder as nou.  Enige salaris is beter as niks, of die skamele UIF wat ek vir 'n paar maande sal ontvang indien ek niks anders kry.
En dit is wat ek nou vir julle kan noem.
elle

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #7 on: May 08, 2012, 03:45:33 AM »
Ek het gesoek vir 'n cowboy met twee revolvers wat vuur en spykers skiet hier op die rye icons, maar daar is nie een nie.
So... hier is die naaste wat ek kan kom om vir die Bytjies te wys wat ek van hulle dink..

 :pottytrain2:   :pottytrain2:   :pottytrain2:

 :laughing4:
elle

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #8 on: May 08, 2012, 03:53:34 AM »
Nou kom die bedankings:

Ek weet julle lees en weet nie wat om te se.  Dis fine.  Ek skram ook weg van sulke situasies, want jy het nie woorde nie.  Dankie vir empatie wat jy het.
Aan die van julle wat vir my e-posse en sms'e stuur en gestuur het..  Adele, PM, Naas, Lewies...julle is ware vriende.  Dit dra jou deur die dag om te weet dat julle vir my bid, aan my dink.
Dankie vir die koffie, Naas, maar mag ek ook 'n koppie suiker by jou kry? 
Die lang droogte in die yskas sal seker 'n ruk duur, maar hey, die positiewe weer daaraan verbonde, is dat ek dit gaan afskakel en KRAG SPAAR en sodoende ook geld.  (Miskien kan ek sommer op 'n eetstaking gaan en 'n kg of 2 verloor. Boring.)
Slaap is min.  Worries baie.
Een uur op 'n slag. 
elle

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #9 on: May 08, 2012, 03:59:40 AM »
Wanneer ek terugkom na die naweek, moet ons die kantoor begin inpak.
Weet julle hoeveel gemors le in al daardie lessenaars se laaie?
Ek wil 'n adder in 'n boks sit en die ou wat my aflegging-brief geteken het, se naam daarop skryf en dan opstuur Dead Office toe:

For Attention:  So and So.
(Private)
Mag die adder so honger en opgeklits wees as daai boks oopgemaak word, hy moet wil VREET.

Kom ons hoop na 'n paar jaar is ek genees van hierdie trauma en het ek die ou vergewe.  Dalk stuur ek vir hom 'n bedanking oor wat hy gedoen het.

Liewe land, die wekker gaan af en ek het nog skaars geslaap..  Hoe kom ek deur hierdie dag?  met oe oop, I suppose. 
Lief julle almal. 
elle

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #10 on: May 08, 2012, 04:20:58 AM »
Wens sooooo dat ons nou naby mekaar was. Ek sou my vergrootglase opgesit het en vir ons so ietsie se watsie onder die sitplek ingedruk het vir die saam wees. Net nog 'n asem langs jou is mos soms al wat ons begeer in tye soos hierdie. Was daar met oudste seun so ons ken hierdie lange helle rimpel effek!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #11 on: May 08, 2012, 04:28:43 AM »
Die Rimpel Effek...
Dit spreek boekdele.  
Ja, ek sit ook hier en kyk hoe wroeg jy deur die nag en ek is baie bly dat jy praat en nie onder die bed wegkruip nie.  :icon_biggrin:
Jy het dit Nooi.  Niemand gaan jou onderkry nie.  Beslis nie!  :headbang:

Skop en skree en gooi al jou speelgoed uit die kot uit.  Dit is deel van die rouproses.  Spoeg vuur!

Ek dink aan jou vandag.  

More Raaitjie, skryf ons so gelyk vir ons maatjie.   :icon_biggrin:





Om te weet is om te verstaan.

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 657
  • Taranee, onse Beertjie.
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #12 on: May 08, 2012, 09:05:53 AM »
O goeie genugtig.. Kom ek vandag hier op die forum om bietjie by te kom, want was bietjie skaars.... :color:

Nee man dis nou nie 'n lekker storie nie. Jy is nogal reg, ek weet nie wat om te sê, behalwe vloek en die mag ek nie. So jammer om te hoor. My dogter is deur amper soort gelyke ding, behalwe hulle het haar geforseer om te bedank en so onkundig soos sy was het sy ewe die papier geteken. Nou het hulle nog te kort betaal ook en dreig om haar CCMA toe te vat as sy enige verdere aanmanings maak. Want volgens wet mag sy nie24 uur bedank nie. Nice!

 :angel12:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #13 on: May 08, 2012, 04:45:22 PM »
Welkom Trappies, het jou vreeslik gemis.

My hare staan kriewelrig regop in my nek.  Dit is werklik onrusbarend om te hoor hoeveel mense deur hierdie nagmerrie is die laaste paar maande.  Vir baie was dit 'n beter uitkoms en ek hoop van harte ook vir Elsabé.  Hoop dit gaan nou goed met Sammy ook.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die Rimpel Effek...
« Reply #14 on: May 09, 2012, 06:46:47 AM »
Hul se gistraand die werkloosheidsyfer het gestyg van 21% tot 27,4%
My maatjie, moenie huiwer om met ons te praat as jy hulp nodig het nie. Ons is daar vir jou.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.