Ek weet nie hoe dit voel om die ma van ‘n dogter te wees nie. Ek weet ook nie hoe dit voel om ‘n suster te hê. Maar ek weet hoe dit voel om die skoonma te word van die mees amazing vrou. Wat maak haar so amazing? Die feit dat sy my enigste se vrou gaan word, hom gelukkig maak, haar Ma2 soms uit die bloute ‘n drukkie gee en Jesus se kind is. Vaste fondament in die Christelike geloof en daarvolgens leef.
Ons drie girls moet winkels toe. Daar is nog outfits, skoene, make-up en die strooimeisierokke wat gekoop moet word. En tyd staan nie stil nie.
Die twee moeders en die bruid spring in die kar en daar voor is net een bestemming, Tygervallei se mall. Ons woerts in by die deur en sommer die heel eerste boutique op linkerhand, Monsoon, se venster gooi haarself voor ons in: die mooiste rok in die perfekte kleur. Ons trek ons asems in en val binne sodat die verkoopsdame sommer regop spring. Ek moet sê, om ons drie te sien en hoor, is om jou tot stilstand te bring, want almal praat saam en bevoel, besluit, swaai arms en gee menings. En sowaar, daar hang nog ‘n paar van hierdie stunning rok in die kleinste van nommertjies. Hemel, die kinders is so maer deesdae, dis net ribbes en sleutelbene en lang nekkies en gelukkig darem C-cup boobies. Hou solank onder die toonbank, ons het nog omtrent twintig winkels om deur te loop. Maar die krop van my maag sê daardie twee rokke gaan oppad kar toe, in ‘n sak beland.
Om die draai, twintig tree verder, gooi ‘n stunning outfit haarself in die moeder-van-die-bruid se arms. Dit is gemaak vir haar. Dis asof haar naam daarop staan, regtig. Ons glip daar in en Hannetjie, wat ons sommer net daar as ‘n vriendin beskou, dra aan en laat uit- en aantrek en gooi neer en haal af en die stringe en ‘delicate’ oorjas sal asems wegslaan. En ons weet, hier gaan ons nie vandag uit sonder daardie hele outfit in ‘n sak nie.
By Queenspark glip ons soos een man in. Die moeder voel skielik aan hoe ‘n paar donkerpers skoene vir haar gil: Koop ons! Koop ons! En dit is perfek by die nommertjie wat Hannetjie nou net sorgvuldig in die sak gesit het. Ons oe en aa en oppad uit skree ‘n roomwit toppie met pêrels om die hals, maar ek maak of ek niks hoor nie.
Daar is twee tea parties vir die bruid in die volgende week. Dit beteken twee geskenke moet gekoop word so onder haar neus. Ons woerts in by Le Crueset en die goed se pryse slaan ons asems weg. Dit is stylvol en kleurvol en die verkoopsmense is hoopvol, maar gelukkig (!) is die hartvormige casserole nie beskikbaar in die dowwe donker pers nie. Nee, hier moet ons uit, want hier gaan ons nie vandag geholpe raak met ‘n R150 x 2 geskenk nie. ‘n Koffiebeker kos R100, of dan amper!
Volgende stopplek is @Home en ons soek heerlik, hartlik rond vir geskenke. By die tyd weet die bruid ons is besig om tea party se presente te soek. (Ok nou nie stupid nie, want kort-kort praat ek my mond verby). Ons koop pragtige goed en laat toedraai net om môre weer oop te draai, maar ag wat, it’s all part of the game.
Nee, hemel, shopping is harde werk. Ons gaan nou eers Café Bagaso toe vir cappuccino’s. Rondom daardie restauranttafel vind ‘n wonderlike gesprek plaas. Natuurlik gaan alle gesprekke in die huis deesdae oor die troue. En ek voel ek moet vir die bruid sê: Julle het geen idee hoe gelukkig julle my maak deur in die huwelik te tree met MEKAAR nie. Nog nie vantevore het ek die kinders so volwasse sien optree, so gelukkig, so absoluut sèker van dit wat hulle doen nie. Dit is asof alles soos ‘n legkaart net in plek val. Die toppunt van hul liefde sal wees wanneer hulle ‘n bondeltjie sal vashou. Ek wèèt dit sal die gelukkigste wees wat my kind, my twee kinders ooit in hul lewens sal wees. En omdat my kind, my kinders so volmaak gelukkig sal wees, sal dit my die gelukkigste ma op aarde maak.
Ons is aldrie in trane.
Hey, ons kan nie hier sit en praatjies maak nie, ons moet nog gaan make-up soek. In by Edgars om te soek of daar skoene sal wees vir die mans wat albei met groot voete en hoë voetbrue spog. ‘n Helse taak om vir die vader-van-die bruid en die bruidegom skoene te kry wat nou nie sole soos trekkertyres het of tekkies lyk nie. (Moet net byvoeg, hierdie twee kry jy nie sommer in ‘n winkel nie.) Ons kry. Maar hulle moet self kom aanpas. En terwyl die moeders hierdie taak verrig, sit die bruid agteroor en die dames dam haar by vir ‘n trial making up session. Ons oe en aa weer en ek gooi myself op ‘n stoel en sê smeer! En ‘n ander dame smeer en plak en borsel en tik-tik en wend aan en die bruid lyk soos ‘n prinses en die –gom se moeder soos ‘n koningin. En net daar kry die dame ‘n uitnodiging wat sy nie kan weier nie: Sy, en haar man, kom saam vir die trou-naweek in Mei om ons mooi te maak. Verblyf en etes gratis. Ons is vyf dames wat onder haar kwaste en poeiers en smeersels moet deur, so sy sal haar stories moet ken. Gelukkig vat sy haar eie Mac tassie saam, so ons het nie eens nodig om ‘n lipstick te koop nie. Sjoe, ons eie make-up artist vir ‘n hele naweek! Dis mos nou om van te droom! Kostes? Later se praatjies.
- Trieng-trieng
- Yellooooo
- Waar’s julle!
- Innie shops
- Wanner kom julle huistoe!
- Stilte
- Wanner kom julle huistoe!
- Ons is oppad (Of so sê almal mos altyd)
Hemeltjie en ons moet nog die outfits van die strooimeisies gaan optel!!
Ons val weer by Monsoon in en die meisiekind ruk amper uit haar stoel. Dis laat. Amper toemaaktyd. Die mense is seker baie moeg, maar die rokke moet innie sakke.
Ons jaag, maar die petrolliggie wil eers brand. Nou toe brand nou maar in jou kanon in. Ons gaan nou huistoe.
Ons sit rondom die tafel en almal beaam, dit was ‘n vrugtevolle dag. ‘n Paar los drade is vasgeknoop. Nog net die –gom en die vader-vannie wat moet skoene kry. O ja, en die strooimeisies moet ook skoene kry en almal moet nog clutch bags kry en die –gom se das?
Trou is nie vir sissies nie. Dis harde werk. En ons moet nog almal salon toe vir naels en hare en waxes en…
©Elsabé