“Jaa!” Sug Oupa terwyl hy die warmte van sy koppie moer afblaas. “Die Duiwel is maar net slim omdat hy al oud is en nie omdat hy die Duiwel is nie.”
Gister kom Oom Piet Setpil hier aangekuier. Dis nou pa se broer wat hoof van die Ko-operasie op Willowmore geword het omdat hy ‘n graad in gatkruip het.
Sy jongste seun, Jan Voorslag, is by hom. Die het verlede jaar Metriek geslaag. Sy twee beste jare op skool was die twee in graad 4. Daarna het Oom Piet homself vir die skoolraad beskikbaar gestel en Jan het elke jaar ‘n paar gatvelle in die vorige graad gelos maar hy het darem nie weer ‘n graad herhaal nie.
Ons, ek en Oupa, gaan wys hulle die plaas.
Oupa is nou nie ‘n klaboer nie, maar hy is tog bietjie bekommer omdat ons nou so sukkel met die nuwe stoetbul wat nie kan ruik nie. Hy noem toe ook vir hulle dat ons vanjaar bietjie sukkel met die min kallers wat gebore is. Jan spring toe ook dadelik in en stel voor dat dit sal beter gaan as ons die grensdraad tussen die bulkamp en die koeie verwyder. Oupa byt amper sy pypsteel af maar hy sê niks.
Soos ons verder loop raak Oupa al stiller en Jan Voorslag se lippe al losser: Hier sou hy pampoen geplant het… Die skape moet nie daar wy nie want… Die leivore is te diep. Die hoenderhokke moet meer dakplate kry…
Ek is later seker die mannetjie het verbale diarrhea en mentale konstipasie maar sy lip-epilepsie kry nie einde nie.
En so boer Jan Voorslag ons toe nou daai dag amper van ons plaas af.
Met die terugstap huis toe hou Oupa sommer reguit verby na hulle handeviervoetbakkie toe en nooi hulle nie eers vir koffie nie.
Voor hulle ry wil Oom Piet Setpil weet of Oupa nie ‘n plaasvoorman soek nie want Jan Voorslag soek werk.
Oupa steek sy pyp rustig op. “Weet jy Piet, ek het nou mooi geluister vir Jannie vandag. Ek dink nie hy sal ‘n goeie voorman wees nie. Jy moet hom maar daar by jou in die ko-operasie werk gee waar hy die boere van slegte raad kan voorsien want sy bek het nie brieke nie.”
Soos ons die vier by vier stofwolk agterna kyk sê Oupa. “Jong Assie, die skoolgoed leer die kinners ook slim maar as hulle met hul klaar is, verstaan die spulletjie nog maar steeds boggerol.”