Hierdie tegniek kom tot sy volle reg met voorlesing. Wanneer jy dus so gedig skep, is dit skryf, luister; skryf luister. Seker maak die woorde wat jy wil laat hang, is op die regte plekke geplaas. Die spasies werk soos die rusteken in musiek. En soos met alles, het dit die mooiste inpak as jy dit spaarsamig toepas.
Elkeen se skepping sal uniek wees, en soms sal die leser voel dat daar iets met die ritme skort met die toepassing van die witspasie (stilte).
My voorbeeld was bloot 'n konstruksie-gedig waar ek die spasies as onsigbare boustene toegepas het, sodat reël 1 en 4 dieselfde lengte het en so dan ook die twee middelste reëls. As jy hierdie gedig sou voorlees, sal die rusperiode beslis nie werk nie - daarom moet jy as skrywer meld dat dit 'n konstruksie-gedig is.
In Adele se gedig is hierdie reëls vir my die mooiste voorbeeld:
in die veld kruip wesens
diep ver weg,
Lees dit nou self hardop: Die klem val op diep .... dan word 'ver' uitgerek en aan die einde daarvan word 'weg' kortaf uitgespreek. Na die komma hier, rus die stem net 'n sekond en gaan dan voort. Persoonlik sou ek die volgende reël aanmekaar laat vloei tot by 'ver', en dan is die volgende rus vir die stem, weer perfek toegepas vir voorlesing.
Elke persoon se uiteensetting sal verskil want die skepper 'voel' sy gedig en woorde bring verskillende emosies na vore wat beelde skep waar hy/sy verkies om 'n spasie in te bring.
NB: Die opbreek van reëls (tipografiese organisasie) in versvorm is 'n baie belangrike toepassing van spasie. Wanneer ons 'n boek oopmaak, is die samestelling en toepassing van witspasies dikwels sonder dat ons eers gelees het, die bewys van prosa of poësie.
Vryeverse is die ideale ABC resep om 'n woorddis saam te stel wat die leeskliere prikkel, en 'n oogfeeservaring vir die leser inhou met die opbreek van verse/strofes van verskillende versreëls.