Sy is by die woonstel toe ek opdaag. Magret, die vrou wat ek vir die volgende paar dae spasie en woorde mee gaan deel. Sonder om te huiwer, dra sy my tas en sit dit in my kamer. Ek sal later uitpak, sê ek, maar gou maak sy plek in die kas en pak my klere daarin. Spontaan. Sy doen alles in stilte. Die oë mis niks, sien ek. Jy dink sy hoor nie, verstaan nie wat in die ander taal geklets word, maar sy is by. Heeltemal bewus van elke beweging en gesprek en altyd byderhand om haar ‘Ouma’ se wense uit te voer. Sy raak my saggies aan die arm en vra ‘wil jy koffie hê?’ terwyl die oë alweer rondkyk om te sien of daar iets anders is wat sy vir iemand kan doen.
Volgende oggend, toe ek uit die badkamer kom, sien ek my bed is opgemaak. Wow, wanneer laas het iemand my bed opgemaak! Sy klop saggies aan die deur en bied koffie aan. Sy is vroeg al gereed om haar mense en hul gaste se lewe so gerieflik en ontspanne moontlik te maak. Sy wil dien. Dit is waar sy tuis voel. Tog, ek kry die idee dat sy nie minderwaardig voel nie.
Ons staan saam op die balkon en sy bied die verkyker aan sodat ek die voor-op-die-wa-rob in die vlak branders kan sien speel. Dit lyk nie of die hoogte enigsins ‘n bangwees faktor is nie. Ons gesels oor die see, die skepe (wat haar geweldig interesseer) en toe ek haar na Robbeneiland vra, helder haar gesig op en sy knik haar kop, sy weet . Nou kan sy vir haar mense gaan vertel dat sy die plek gesien het waar hulle leier eens ‘n gevangene was.
Ek annekseer Magret vir ‘n uurtjie en ons stap al langs die strand. Ek vertel haar van hoogwater en laagwater en ek kon sien dat dit vir haar vreemd is. Ons tel klippies en skulpies en seegras op. Sy gaan dit droog en vir haar mense wys. Die jellievis laat haar giggel toe sy met haar toon daaraan voel. Sy kyk verbaas en amper ongelowig na die deurskynende stuk jellie. Ek het vroeër gesien daar lê alreeds sakke skulpe op die balkon wat moet saam, maar ek wou net graag ook skulpie-optel met haar deel. Sommer net vertel, in ‘n taal wat nie haar eie is, hoe die seebamboesstukke wat rondlê, aan mekaar behoort en die twee van ons al laggende op die strand soos seebamboes in die strome rondwaai. En ek kan nie indink hoe dit moet voel om vir die eerste keer in jou nege-en-twintigjarige bestaan die oseaan te sien, hoe ‘n skip lyk, hoe meeue op die lug kan sweef…. Dit moet amper oorweldigend wees.
Ek vra vir Magret of sy al na haar mense verlang en ja, sy verlang. Sy vertel my van haar twee kindertjies en met die kenmerkende vingers bymekaarbring en die palm na bo op verskillende hoogtes, wys sy vir my hoe oud hulle is. Ek kan my nie indink hoe ‘n ma haar tweetjies, ses en twee, by ouma agterlaat om te gaan verdien om die pot by die grootouers se huis aan die kook te hou. Ons leef in twee wêrelde, maar tog is ons dieselfde. Ons is mens. Ons is ma. Ons is ook vrou.
Later die dag loop die twee van ons weer saam om roomys te gaan koop vir onsself en vir die ‘oumas’ hoog bo op die twaalfde vloer. Vir Magret kon ek vra wat ‘ouma’ PM en ‘ouma Naas’ op hul roomys sou van hou en sy wys na die kleurvolle vermicelli en smarties en sjokolade balletjies. Dit is tog haar ‘ouma’ se verjaarsdag. Ek is verstom oor hoe sy die sleutels, die hysbakke en die sekuriteitsdeure van die enorme woonstelblok sonder moeite gebruik. Sy is skerp. Sy vat raak.
Sy maak snacks en die mieliegereg het ge-grill instede van bak, maar ag, Magret, ek sou vergeet het om die oondknoppie te draai. Die gaste was gaande oor jou kos. Sy sit stil en rustig op die bankie by die skuifdeur, net hier langs my en giggel toe die ghitaar uitkom en die gaste begin sing. Is dit vir haar vreemd? Gisteraand, met die boekbekendstelling is Magret stylvol geklee vir die okkasie, gegrimeer en op haar plek. Sy staan vol vertroue op toe Naas haar bedank vir haar bydrae. Ek is trots op haar.
Vir Magret wil ek ‘n groot dankie sê, sy is Hannes en PM se regterhand. Sy het dit moontlik gemaak dat PM al haar tyd aan Rooiwyn, Kaggelvuur en Vers asook haar gaste op die partytjie en funksie kon wy en daarvoor salueer ek haar.
Mag dit met jou goed gaan, Magret.