Rosa Rosarum (A.G. Visser – 1925)
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.
Kom in die soel someraande en luister
-Wanneer die nagwind hul drome verklaar-
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!
Kom waar die lelie – die blanke, die reine-
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine-
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.
Kom as die maanblom – wit sy en satyne –
As ‘n vorstinne verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne –
Skoonste juweel op die bors van die nag!
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –
As sy in glorie van songloed verwelk.
Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.
Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die more en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!
Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!