Mens besef eers hoe onparaat mens is as die werklikheid gebeur. Op 8 November toe die 6 inbrekers ons oorval het, was ons geheel en al onvoorbereid daarop. Ten spyte daarvan dat ons huis geheel en al afgesonderd staan. Ons bure is 'n natuurreservaat een kant, oseaan ander kant, en oop erwe sover die oog strek ander kant. Dit was deel van die aantrekking. Die stilte en afsondering. Ons het geen gedagte aan misdaad geskenk nie. My groot messe het uitnodigend in 'n blok gestaan op die kombuis toonbank reg onder die venster waar hulle ingekom het. Ons baie duur alarmstelsels was vir 2 jaar nooit geaktiveer nie, oor my katkinders. My vuurwapen is onafgevuur al vir meer as agt jaar, in die kluis, waarvan ek vir twee dae na die sleutel moes soek agterna. My en my man se selfone is gesteel. My seun het met 'n skietwond op die kombuisvloer gele. Ek het sy sel gehad, maar ken daardie maak nie. Ek het nie geweet hoe om dit te gebruik nie. Ek het geheel en al in die war vergeet van die paniek knoppie vir ons sekuriteitsmaatskappy. Ek het met my kruppel bene op en af deur die huis gehardloop op my kouse, gly gly deur die bloed van my man en seun. Ek het 'n landlyn, maar daar gekom besef ek het nie 'n enkele nommer op papier om te gebruik nie, alles gestoor op die selfoon. Ek het maklik twintig mnute geneem voordat ek die werklike paniek knoppie gedruk kon kry en die sekuriteit ontbied, wat van daar af beheer geneem het en die ambulans, polisie ens laat kom het. Ek dank my sterre alles het sonder tragedie afgeloop. Dink watter selfverwyt sou daar wees. Nou is daar 'n lang lys telefoonnommers naby die landlyn, versteek. Ek weet hoe elke sel in die huis werk. Ek ken die alamrstelsel goed. Paraat wees is so belangrik. Ons hou nou ons eie fire drills hier. Letterlik ook agv al die vure. En misdaad. Iemand moet net effe huiwer voor ons huis, dan het ek sy registrasie nr en beskrywing. Ek lag so, meestal is dit Gauteng besoekers op vakansie wat ons mooi plekkie bewonder!