Ek het jou hulproep gehoor daardie nag
- en nog vir maande daarna -
die nag toe die storm jou oplig uit jou baan
en so wreed kom neergooi op die bank
jy het gesidder van vrees en pyn
- ek het jou trane gesien -
jy is alleen agter gelaat in die vreemde baai
aan die voet van die Kaapse Berg
Ek het geskok gekyk, gesien en gewens
ek kon my arm uitstrek tot daar by jou,
jou terugstoot tot in kalmer waters tot daar
waar jy weer veilig sou wees teen
die aanslae wat jou liggaam so verwoes
jou bloed is gestort, jou ingewande verwyder
in 'n poging om jou te red
jy het saam geveg, wou nie opgee
maar was vasgeval, gedoem vir die dood
Jou eens trotse gestalte lê bruin verroes
verslaan, gestroop van jou vrag,
'n karkas geskeur, verinneweer in die son
waaraan nou nog net die aasvoëls vreet
pik aan die laaste bietjies van jou ribbe
wildehonde is besig om jou bene weg te dra
stuk vir stuk lê jy verstrooid
hier in die vreemde land
Ek huil oor jou, Seli, ek sou jou in die baai wou hou
hier waar jy saam gespeel het met branderryers en baaiers
jou wrakkeliggaam sleur-sleur nog op die strome
en eersdaags sal die klokke ook vir jou begrafnis lui,
maar jou gees sal bly sweef, Seli,
oor die waters van Tafelbaai
++++
Begin Oktober het Seli1 in twee geskeur in nog ‘n woeste Kaapse storm en van die olie wat nog in haar romp was, het begin lek. ‘n Kilometer strand vanaf Milnerton lagoon tot by Big Bay was met olie besmeer, maar is gou skoon gemaak. Die omgewing rondom Robben Eiland tot by die Koeberg Kragsentrale is met valk oë dop gehou. Die Kaapse omgewing is ‘n belangrike broeiplek vir die Kaapse pikkewyn, kormorante en ander voeëls. Gelukkig is geen olie besmeerde voeëls aangemeld by SANCCOB nie. Seli1 is op haar laaste. Dit het miljoene rand gekos om haar tonne vrag van steenkool en olie te verwyder en sy is aan haar lot oorgelaat. Met die laaste skeur is bespiegel dat wrakstukke nie net die kus sal besoedel en ‘n gevaar vir die publiek sal wees nie, maar ook vir skepe wat na die hawe oppad is. Ons wag maar nog om te sien wat verder gaan gebeur. Fondse bly ‘n groot kopseer.