Wanneer mens jou blootstel aan ander mense, is die kans om teleurgestel te word altyd daar. Ek leer ook nooit en dit is hoekom ek my onttrek van mense, maar dis verkeerd. Sou ek 'n rand hê vir elke keer dat mense my teleurgestel het, kon ek vandag lag lag my skuld betaal en nog geld oorhê vir 'n lekker vet tjoklit. Die hele lewe, lyk dit vir my, bestaan uit kanse vat, vertrou en seerkry of vertrou en behou. Elke keuse wat jy maak het gevolge, goed of sleg. Dis wat jy met die uiteinde daarvan doen, wat die verskil maak.
Ek en Raaitjie is besig met 'n projek oor die vriende in my lewe. Net vanoggend sê ek vir haar ek wik en weeg nog of ek 'n sekere persoon se foto daarby wil sit, want ek het 'n onaangename ervaring gehad. Toe besluit ons, ja, ons doen, want sonder die sleg is daar niks wat die goed balanseer nie en dan is die prentjie nie getrou nie. Goed en sleg is albei deel van wie ons is en ons kan nie halwe mens wys nie.
Nou het ek alweer te veel gepraat vir vandag.