Kenners raai aan dat ons woorddisse nie gegeur/garneer moet word met bleekgeykte uitdrukkings nie. Dat ons dit moet vermy soos 'n sesvoetkiem of die runderpes. Dit het 'n 'kleintjie dood' onderwerp geword vir joernaliste en wil-graag-skrywer-wees en dies meer. Woordkunstenaars word aangeraai om liewer 'n wye Kaapse draai te skep met die ABC, om sodoende nie in 'n onkreatiewe put te val nie. 'Dink buite die raamwerk' gil almal soos een belese man vanuit alle windrigtings.
Ons woorde moet op hulle eie voete staan, nie geleen of gesteel wees nie. Eina Maryna! Nuut geskep. 'n Vars briesie tussen jou lyne wat die leser betowerend meevoer na nergens, soos 'n maslose seilbootjie op lewenswaters of twee takke wat dansend paar op die geteem van 'n suidwestemelodie.
Loer ek eers tamatie-, dan bloedrooi na my eie griffels. Deurspek van toeka tot nou se spreekwyses. Gepeper met 'n liefde vir ons taal soos ek hom geleer het voor die Dover met sy houtkis vol mieliestronke en bekorende misvormpies van ouma se vingerafdrukke onder my boude (waar ek sittend gehang het aan haar lippe) en haar voorskoot se reuk wat my neus die lekkerste kon afvee. Sagter as Woolies se duurste sneesdoek - behalwe wanneer sy die deel gebruik het waar die stukkies vetkoekdeeg hard geword het.
Selfs in my kommentare verklap die clichés my sonde met die alfabet. Verdoem myself tot die buitenste duisternisse van ongeletterde tekortkome en 'n gebrek aan eie styl, waar ieder en elk alreeds donkiejare bewus is van my vrees vir die woordlose donker.
Vanuit ons ingelegde ABC wou ek die persverlange (soos die verste berg op die prentjie teen my muur) aan jou beskryf, instede daarvan tuur ek nou net na my vingers op die skakelbord; en wonder of ek ooit instaat sal wees om clichéloos uit die oude doos te griffel?
French poet Gérard de Nerval: "The first man who compared woman to a rose was a poet, the second, an imbecile."[5]
A cliché is often a vivid depiction of an abstraction that relies upon analogy or exaggeration for effect, often drawn from everyday experience. Used sparingly, they may succeed. However, cliché in writing or speech is generally considered a mark of inexperience or unoriginality.http://www.writersdigest.com/whats-new/10-tips-to-bypass-cliche-and-melodrama*Sluip ek terug: in die woordmandjie het ons van die kosbaarste kreatiewe woorde/uitdrukkings. Gereed om te gaan uitstal in ons nuwe skuur. Hierdie loopplankwoorde van SueEe het weer my hart gesteel:
See - Rammelwaters.
Winde - Asemkitare.
Mis reën - tiktikkie reën.
Emosies - Gedagte taal.
Heuwels - Aardsplooie.
Koppie - Veldpuisie.
Opinie - Waggel-woord.
Debat - Wisselwoord.
Argument - Wissel-waggel woord.
Aircon - Weerjoggie.
Laatslaper - het Katelkoors.
Parfuum - Bottelblomme.