Author Topic: Baba Beer se slegste dag  (Read 3671 times)

0 Members and 2 Guests are viewing this topic.

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Baba Beer se slegste dag
« on: August 06, 2011, 07:10:25 PM »
Baba Beer word wakker en glimlag vir sy ma – soos gewoonlik. Hy trek sy pajamas uit en trek sy denim en T-hemp aan – soos gewoonlik.
Baba Beer gaan kombuis toe om sy pap te eet. Pappa Beer en Mamma Beer is al daar – soos gewoonlik. 
Maar iets is anders! 
Baba Beer kyk na sy pa. Hy lees koerant – soos gewoonlik. Baba Beer kyk na sy ma.  Sy staan voor die stoof – soos gewoonlik. 
Wat is dan anders? Toe sien hy dit! Die papborde is leeg! 
“Waar is my pap?” vra hy – soos gewoonlik. 
“Dit is nog te warm” sê Mamma Beer- nie soos gewoonlik nie. 
“Skep die pap in die borde, dan gaan stap ons ʼn entjie.”  sê Pappa Beer.
Mamma Beer skep die pap in die borde. Pappa Beer trek  Baba Beer se skoene aan en sit sy hoed op sy kop. 

Hulle stap woud toe – soos gewoonlik. Baba Beer jaag die hasies heen en weer en die hele tyd hoor jy sy skaterlag die hele woud vol.  Hy rol in die gras, maak vir Mamma Muis skrik waar sy besig is om haar voorstoep te vee en kielie die baba muisies wat buite speel.
Terwyl hulle so huppel en stap, gewaar Baba Beer vir Erik Eekhoring. Hulle twee speel altyd tog te lekker saam. Erik is besig om ʼn reuse akker rond te rol. Nou speel hy en Baba Beer tog te lekker met die akker. Pappa  Beer rol ook die akker so ʼn paar keer vir hulle.
Van al die baljaar, begin Baba Beer se maag grom. Hy roep benoud na Pappa Beer om
te kom luister hoe die goed in sy magie met mekaar baklei.  Pappa Beer hou sy oor teen Baba Beer se magie en toe lag hy tog te lekker. “Nee man, sê hy, jy word nou honger. Dit is hoekom jou magie so grom. Kom ons gaan huis toe.  Ek dink die pap is al afgekoel.”
 Baba Beer huppel vooruit – soos gewoonlik.

By die huis, kan hy nie wag om sy pap te eet nie. Hy hardloop kombuis toe – soos gewoonlik.
Maar iets is anders. 
“Wie het van my pap geëet?” grom Pappa Beer. 
“Wie het van my pap geëet?” grom Mamma Beer  bietjie sagter. Baba Beer hardloop tafel toe. Sy bord is leeg! 
“WIE HET MY PAP OPGEËET!” gil hy hard. 
“Hier was iemand” sê Pappa Beer en stap na die sitkamer om te kyk of daar dalk iemand was. Mamma Beer en Baba Beer stap bangerig agterna.
“Wie het op my stoel gesit?” bulder Pappa Beer en tel sy pyp van die grond af op. 
“Wie het op my stoel gesit?” vra Mamma Beer en tel haar kussing van die grond af op. Baba Beer kom nou vinnig nader. 
“WIE HET MY STOEL GEBREEK!!!!”  gil hy.   
Nou is Pappa Beer woedend. Hy begin rondkyk en snuif-snuif loop hy deur die huis.  Pappa Beer klim die trappe na die slaapkamer toe. Mamma Beer stap tweede en Baba Beer hardloop nie vooruit soos gewoonlik nie.

“Wie het op my bed gelê?” hoor hy Pappa Beer se stem. 
“Wie het op my bed gelê?” hoor hy Mamma Beer vra. Baba Beer hardloop so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra na sy eie bedjie toe.
Hy steek vas ... op sy bed lê ʼn snaakse, nuwe teddiebeer. 
Sy mond gaan oop om iets te sê, maar hy kry nie gepraat nie. Dis die mooiste teddiebeer wat hy nog gesien het.  ʼn Dogtertjie teddiebeer met goue haartjies.   
“Wie het op my bed gelê?”  piep hy flouerig, “en kyk, hier lê sy nog!”  kom sy stemmetjie. Pappa Beer en Mamma Beer kom vinnig nader.
Net toe, word die nuwe teddiebeer wakker. Voordat een van die bere nog iets kan doen, gil sy, spring op en hardloop by die deur uit, af met die trappe en al verder en verder van die bere se huis af weg.

Baba Beer het die res van die dag gehuil. Hy moes Weet-Bix eet, want sy pap was op.  Hy moes op die grond sit, want sy stoel was stukkend. Vanaand moet hy alleen op sy bedjie slaap, want sy nuwe teddiebeer het weggehardloop. 
Dit was sowaar sy slegste dag!

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Baba Beer se slegste dag
« Reply #1 on: August 07, 2011, 06:13:59 AM »
Giggles... Beste weergawe van Die Drie Beertjies wat ek al gelees het.
Mal oor die 'Weet Bix' wat jy ingebring het en die Teddiebeer met die goue lokkies.



elle

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Re: Baba Beer se slegste dag
« Reply #2 on: August 07, 2011, 09:26:02 AM »
Dankie jong. Ek lief dit om die bekende kinderstories te vervorm en my eie te maak.  Die kiddies is mal daaroor.  Dink jy dis goed genoeg om in die boek te sit?  Die ander storie is te lank.  Dit gebruik te veel van my spasie.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Baba Beer se slegste dag
« Reply #3 on: August 07, 2011, 12:05:22 PM »
Jaaaa... beslis!!
Ek het 'n voorstel gemaak dat ons 'n KinderAfdeling inbring.
Gaan lees.
Het self nou die dag 'n Engelse storie'tjie geskryf. As ons 'n KinderAfdeling kry, sal ek dit daar plaas.

Geniet jou Sondag. xx
elle

Offline Lox

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 757
  • Gender: Male
Re: Baba Beer se slegste dag
« Reply #4 on: August 07, 2011, 03:45:18 PM »
gawie jy laat my mos nou lekker lag met jou  beertjie storie, dankie
wees vriendelik met die boere, hulle sit kos op die tafel.

Offline bloubefoeterd

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 94
  • My bloed is blou. Ligblou
Re: Baba Beer se slegste dag
« Reply #5 on: August 08, 2011, 08:08:46 PM »
Gawelienkie

Lekker storietjie gewees!