Volgens die resepteboek beteken Umqusho, stampmielies en dit kan glo ook ‘n heerlike potjie maak. As jy dus ‘n potjiemens is, probeer dit gerus. Begin vroegtydig, want dit neem lank om gaar te word. As jy ‘n “slowcooker” het, begin sommer al die vorige aand en kook jou stampmielies en boontjies daarin tot sag. Spaar vir my baie tyd.
360g (500 ml) stampmielies
180g (250 ml) suikerboontjies
Sout
Peper
12.5 ml olie
2 uie, in ringe gesny
1 groen soetrissie, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, gekneus
12 stukke skaapnek (ek gebruik enige kookvleis, veral bees)
2 tamaties, ontvel en gekap
6 klein aartappels, geskil (groter aartappels in blokkies gesny werk vir my beter)
100g klein worteltjies
15 ml kerriepoeier
25 ml borrie
1 hoenderaftrekselblokkie, opgelos in 500 ml water.
Week stampmielies en suikerboontjies oornag in koue water. Dreineer en kook met 1 liter water tot sag en geur met sout en peper. (dis nou waar die “slowcooker” inkom.)
Verhit olie en soteer ui, soetrissie en knoffel tot sag.
Geur vleis met sout en peper en voeg by.
Braai alles bruin.
Voeg nou alles by stampmielies en bone. Plaas tamaties, aartappels en worteltjies bo-op.
Meng Kerrie en borrie met die hoenderaftreksel en giet oor bestanddele.
Laat prut tot lekker sag. Voeg ekstra water, sout en peper by indien nodig.
Genoeg vir 8 – 10 mense.