My sonplekkie
Teen ‘n vreemde Sinaïberg
klim ek half uitasem
onder ’n oorhangrots in.
’n Arend sweef daarbo,
skynbaar rigtingloos,
duik dan sondermeer
met stil vlerkklap op sy prooi neer.
Ek bind myself vas;
om my hande en voete skuifknope
van selfverwyt en verdriet
en gaan lê op die altaar van onvergifnis en vrees
tot ure later, koud en styf,
my ledemate weier om te beweeg.
Uit ’n beswyming, teen skemeraand,
roep ’n Stem na my en
sukkel ek my gedagtes bymekaar:
Vergeet jou swaar, kyk agter jou
in daardie sonkol deur die skeur
begin jou nuwe lewe,
geen koue vrees om jou te tart
geen liefdelose jaar saam met ’n harde hart.
My eie plekkie in die son
het ek teen ’n vreemde berg gevind.
My eie Sinaï in God se sterlig,
vergifnis op my kruisvaart,
my innerlike vrede styf om my hart gebind.
©adéle theron