Dit was toe só
9.Maria dans amper weer.
’n Week of wat later sit sy en haar ouers alleen in die tuin. Sy het gou aan die rolstoel gewoond geraak, al pyn haar skouers wanneer sy die wiele rol. Sy weier egter dat haar pa haar stoot.
“Regtig Pappie, ek moet hierdie ding self gewoond raak, maar as julle nog iets vir my wil doen, verkoop dan ouma Bessie se huis … so gou moontlik, asseblief.”
“Is jy nou laf? Julle het juis nou ’n goeie dorpshuis nodig.”
“Julle?” vra sy.
“Ja, julle,” antwoord Frans, “of moet Valdimar vir julle ’n ander plek kry?”
“Nee, Pappie, nee wag,” keer sy. “Daar gaan nie ’n ‘julle’ wees nie. Ek gaan so gou moontlik weg. Ek kan nie hier bly nie.”
Op sy vraag of sy dan nou al haar varkies verloor het, vertel sy hoe sy voel. Voor hulle kan antwoord, swaai sy haar rolstoel om en beweeg huistoe. Frans kyk na Lien wie se oë nou vol trane is.
“Dit kon ek gedink het,” sê Lien. “Wat gaan nou gebeur?”
“Niks, lief Lien. Ons gaan huis toe sodat hulle hul dinge kan uitsorteer. Valdimar sal maar net geduldig moet wees.”
“Nou kom ons gaan dorp toe en vat haar saam. Dan kan Valdimar daar vir haar gaan kuier sodat sy nie voel hy is hier onder verpligting om na haar te kyk nie.”
“Ek is nie seker of jy reg is nie, maar dit kan dalk werk. Hoe ook al, ons gaan terug huis toe. Valdimar moet haar self oortuig. Niks wat iemand anders sê, gaan haar van plan laat verander nie.”
Valdimar verstaan nie wat in Maria se kop aangaan nie.
“Valdi, dankie vir alles, julle hulp en vriendskap beteken vir my baie, maar ek moet eers alleen wees en my eie lewe uitsorteer.”
“Nou maar goed. Maar ons gaan binnekort gesels,” beloof hy haar.
Sy knik instemmend want haar trane is te naby om verder te stry.
Valdimar kom amper elke dag kuier, maar voor donker ry hy huis toe. Anders bring hy die tweeling saans saam. Hulle kruip diep in Maria se hart in, maar sy hou dit vir haarself. Intussen bedink sy planne vir haar toekoms, maar niks wil uitwerk nie. Al gaan sy ook waarheen, sy moet weer musieklesse gee want sy moet ook lewe.
Een aand tydens ete op die plaas kom Gretel met die skokvraag.
“Wanneer gaan Pappa en tannie Maria trou?”
Valdimar kyk haar stil aan. Hy het nie eintlik ’n antwoord nie. Dan sê hy:
“Ek weet nie Ek het haar reeds gevra, maar sy het net gesê sy kan nie nou trou nie en geweier om dit verder te bespreek.”
“Maar Pappa, vertel jy haar darem elke dag hoe lief jy haar het?” Gretel is nie tevrede nie.
“Ja, en soen Pappa haar darem? Ek sien nie veel daarvan wanneer ons daar is nie,” gooi Gisela ook haar pennie in die dam in.
Valdimar bly stil. Hoe kan hy hulle vertel dat sy hom belet het om haar vas te hou, anders sal sy weier om hulle weer te ontvang. Maar hulle wag vir sy antwoord.
“Sy wil niks weet nie, julle. En buitendien waar kom julle nou aan sulke gedagtes?”
Gisela besluit dis nou of nooit.
“Dis omdat sy nie kan loop nie en sy is bang Pappa gaan later nie meer daarvan hou nie.”
“Gisela! Waar kom jy daaraan?” Hy is skoon ontsteld.
“Natuurlik, Pappa,” sê Gretel. “Kan Pappa nie sien hoe hartseer sy soms na jou kyk nie? Ek dink sy gaan weggaan want Santie het gesê hulle het nog net hierdie kwartaal musiekles by haar.”
Valdimar staan vinnig op. Hy is hoogs ontsteld.
Die volgende oggend bel hy haar vroeg.
“Magriet, trek aan. Ek sien jou oor ’n uur.”
“Is jy nou laf? Ek het te veel om te doen voor jy hier kan aankom.”
“Dan kom help ek jou om dit te doen,” sê hy ernstig.
Maria trek aan. Sy is vies, maar skud dit gou van haar af. Elke oggend werk sy deur ’n reeks oefeninge en het die vorige dag skielik besef dat sy haar tone kan roer. Nou wil sy dr Gerald se raad gaan vra. Die klop aan haar deur is dringend en sy gaan maak dadelik oop.
“Wat is dit? Wat het gebeur?” vra sy toe sy sy ernstige gesig beskou.
“Is jy van plan om weg te gaan?”
“Waar … waar hoor jy dit?”
“Dan is dit waar? Een van jou musiekleerlinge vertel so.”
Maria knik. Harseer sê sy:
“Ek moet Valdi. Al loop ek dalk eendag weer, sal hierdie been my altyd terughou.”
Valdimar se oë begin vonkel. Hy het nou genoeg gewag en stoot haar stoel kombuis toe. By die tafel buk hy en steek sy arms onder hare in. Voor sy besef wat hy doen, tel hy haar op en sit haar op die tafel neer. Toe soen hy haar saggies op haar lippe. Hy vou sy hande om haar gesig en soen haar weer, hierdie keer lank en teer. Dan sê-vra hy haar:
“My liefste Magrietjie, wanneer trou ons? Ek gaan nie langer wag nie, maar sal jou twee maande gee.”
Sy kry haar asem terug en staar hom net aan.
“Vergeet van stry en baklei. Ons gaan die toekoms saamstap soos ons al jare gelede moes gedoen het,” sê hy saggies. “Ek gaan jou preekstoel toe dra, as dit nie anders kan nie.”
Maria begin lag. Haar vreugde borrel oor. Sy besef sy het tuisgekom en gaan nie meer stry nie. maar dat sy dalk self preekstoel toe sal kan loop, gaan sy hom nie vertel nie.
“Ja, dis reg, ek sal oor twee maande met jou trou.”
SLOT
©adéle theron