Uit ’n moderne opdatering van die werk van Thomas a’ Kempis se “Imitatio Christi”, ook bekend in Engels as
“The Imitation of Christ” van 1441, deel ek met julle die volgende wat vertaal en opdateer word deur 'n sendelingvriend van my, Gerhard Potgieter.
(Ek doen die redigering van hierdie werk vir hom nadat ons mekaar op 'n vreemde manier op fb raakgeloop het en ek kan eerlik sê dat my griffelwerk wat onder julle groep gegroei het, hiertoe bygedra het. Alle eer aan ons Vader!)
Ek het 'n kort opsommiing van Thomas se lewe uitgehaal ....
Thomas a’ Kempis
Thomas is in 1380 in Kempen, in die noordooste van Nederland gebore. Hy het skoolgegaan op Deventer en was vlot in Latyn. Op ouderdom 26 word hy ’n monnik in Mount st. Agnes Klooster en word hy ’n hoogsaangeskrewe leraar, skrywer en dokumenteerder. Hy en ander het 'n beweging “Die Broederskap” begin waardeur hulle die gemeenskap rondom die klooster tot hulp was en baie met boerdery en hul lewe gehelp het. Hulle het selfs 'n skool begin. Hy het egter nie tot die priesterskap toegetree voor 1413 nie waarna hy in 1429 die rol van sub-Ab van die klooster en gemeenskap gevul het. Hy en andere het min of meer in daardie tyd hewige teenstand van die Rooms-Katolieke kerk, waarvan hulle deel was, ervaar.
Dit was ’n tyd van oorloë en onsekerheid en ook van ’n afvallige en polities gemotiveerde Rooms-Katolieke kerk met amptenary wat rykdom en mag nagejaag. Thomas was ’n gesiene man in die beweging, maar tog ’n uiters nederige en beskeie mens wat nie eer, gesag, mag, status of enige vorm van erkenning nagejaag het nie. Hy het homself soos Paulus, as ’n slaaf van Christus gesien en sy hoofdoelwit was om te dien eerder as om gedien te word.
Ongeveer 1430 het Thomas sy broer wat baie siek was, gaan versorg tot dié se dood in 1432. Daarna is Thomas terug na die klooster van Mount St. Agnes, maar hy het nie ’n leierskap posisie opgeneem nie. Hy het as gewone monnik en priester homself gewy aan sy skryf en ander werk. In 1448 word hy egter weer die sub-Ab en met hierdie aanstelling het Thomas by die broers gepleit om vir hom te bid omdat hy onwaardig voor Christus is om hoër in posisie te wees as die ander. Hy hou die pos tot sy dood in 1471 met sy afsterwe op ouderdom 91 na 65 jaar se lewe van toewyding aan die evangelie as ’n priester.
Regdeur die geskiedenis was daar gelowige manne en vroue wat deur totale selfopoffering die evangelie en die mensdom gedien het. Jesus Christus was hulle voorbeeld in elke sin. Paulus, Petrus en die ander Apostels, Augustinus, Eusebius, Theresa van Kulkutta, Hudson Taylor, Robert Moffat, David Livingstone, John en Isobel Kuhn en soveel ander. Selfs vandag nog. Thomas was so ’n man en ongetwyfeld een van die vernaamste voorbeelde.
Thomas was buiten sy akademiese werk, ’n man wat homself toegewy het aan die prediking van belydenis, bekering en wedergeboorte. Dit het hy gedoen aan groepe en in kerke maar sy groot fokus was om mense een op een te bereik, ondersteun, en oorreed om Christus as verlosser te aanvaar en te dien. Die “Imitatio Christi” is ’n duidelike getuienis van waar Thomas se hart gelê het wat die evangelie betref en dit is waarom die boek bykans ses honderd jaar na die skryf daarvan steeds lewens raak.
Thomas was by uitstek die voorbeeld van nederigheid in die beweging en nie gemaklik met leierskap nie; het eerder gefokus om sy talente tot eer van Christus en in diens van die samelewing uit te leef. Hy het self met sy eie hand die hele Bybel ten minste vier maal gekopieer. Voorwaar ’n grootse opoffering gegewe sy ander verpligtinge wat hy homself opgelê het.
As hier belangstelling is, sal ek later verder vertel ...