Slaat jy enige form van die media oop kry jy tafel op tafel wat kreun onder die mees pragtigvoorgesitte disse wat jou laat kyk en kyk en begeer en watermond los.
En dit in 'n wereld wat al hoe meer oorgewig - en vet - word.
Daar gaan nie 'n week verby wat jy nie iemand nuut sien wat 'n kosprogram of -blog begin nie. Liewe aarde, op hoeveel maniere kan jy rys kook?
Word ons vet as gevolg van al die mooi prentjies of gebruik opportuniste ons liefde vir kos as 'n geldmaakstorie?
In Amerika is daar 'n ou wat sy donkerbril op sy agternek dra wat in sy afslaankaptjor van eetplek tot eetplek ry en dan die kos daar gaan proe. Soveel van vleis en vetterigheid het ek nog nie in enige ander kosprogram gesien. Die Amerikaners eet hompe. Letterlik hompe kos wat op hul borde le en wag vir 'n eter om dit by te dam.
Gewoonlik is die kosb(l)oggers alreeds superryk en steeds vertel hulle vir ons hoe om ons rys gaar te maak. Of 'n lemoen uit te druk. Of hoe om 'n garnaal uit te dop.
Tydskrifte het bladsye vol glans prentjies en resepte vir die heerlikste lamsboud of koek. Of hoe om jou hoender te marineer voor jy dit op die rooster gooi. Wie gee (regtig) om hoeveel suurlemoensap en hoeveel olyfolie? En as ek advokado-olie bo olyf-olie verkies, dan gee ek nie om of dit die suurlemoensap komplimenteer of na lemmetjiesap sal laat proe nie.
Daar is letterlik duisende kookboeke op die rakke. Selfs in ons kombuise. En kook ons ooit hier uit? Nee.
(Ekself het 'n paar blinkbladkookboeke op my skoondogter se boekrak laat beland. Dit lyk nogal mooi so in die rakkie bo die stoof... he he)