Author Topic: Die huis met die pienk dak.  (Read 4131 times)

0 Members and 2 Guests are viewing this topic.

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Die huis met die pienk dak.
« on: August 04, 2011, 05:56:28 PM »
Die huis met die pienk dak.

In ʼn klein, klein dorpie, langs ʼn klein, klein bergie, staan ʼn klein, klein huisie met ʼn pienk dak. Daar is niks ongewoons aan die huisie nie en ook niks ongewoons aan die mense wat in hom woon nie. ʼn Ou omie met sy ewe ou vroutjie woon hulle hele lewe lank  in die pienkdak huisie.  Die ou omie het in hierdie huisie groot geword en hy het sy bruid na hierdie huisie gebring. Dit is ook in hierdie huisie waar hulle hulle enigste seun grootgemaak het.
   Langs die huisie, staan groot huise. Pragtige huise met groot tuine en belangrike mense wat in hulle woon.  Die geel huis met die rooi dak, behoort aan die prokureur  en die pienk huis met die blou dak, aan die bankbestuurder. In die klein, klein dorpie is hulle die belangrike mense met groot blink motors en groot blink diamantringe aan die vroue se vingers.
   Naweke is dit ʼn gedoente by die groot huise. Motors kom en gaan en dis die een partytjie na die ander. Die musiek kan jy ver hoor asook die gelag van die mense wat daar kuier.  Dit klink vir die klein huisie so vrolik en hy wens dat daar ‘n bietjie vrolikheid in hom ook kan wees. Die ou  mannetjie en sy ewe ou vroutjie, sit saans doodstil in die woonkamer.  Die ou mannetjie luister radio terwyl die ou vroutjie sit en hekel.  Soms sit hulle sommer net in stilte en dan voel die klein huisie so hartseer. Hy wens die seun wil weer kom kuier.  Sy kinders sorg darem altyd vir plesierigheid. Die huisie kan so lekker giggel as hulle so agter sy mure wegkruip en die geute kielie sy lyfie as hulle daarteen skuur, maar die seun was lanklaas hier.
   So gaan die dae verby en dit word weke. Die weke word maande en die klein huisie kry nie sy wens nie. Alles bly stil en alleen terwyl die vrolikheid by die groot huise voortduur.
Die ou  mannetjie en sy ewe ou vroutjie, word al ouer en krommer en die klein huisie voel of sy mure ook krommer word.  Dit help nie eens as die ou vroutjie so staan en sing terwyl sy in die kombuis werk nie. Hy voel ook nie beter as die ou mannetjie sit en fluit terwyl hy die groente vir sy ou vroutjie skil nie.  Die huisie met die pienk dak voel mistroostig. Die ander huise spot hom met sy vaal dak en sy gekraakte mure.  Hulle lag vir die lendelam voorhekkie en die stukkende tuinpaadjie. Hulle sê hy raak lelik en die mense gaan hom platslaan as die ou mense dood is. Die bankbestuurder en die prokureur het net die vorige naweek tydens een van hulle partytjies so gesê. Hulle is glo moeg vir die lelike huis hier in hulle woonbuurt.
Dit maak die klein huisie nog hartseerder en sy dak word sommer valer soos hy hom bekommer.  Hy verbeel hom, daar kom nog ‘n plooikrakie in een van sy mure uit. Die klein huisie met die pienk dak kraak sy hartseer uit: “Wat gaan ek doen? Hoe gaan ek keer dat hulle my platstoot?  Hulle gaan seker ʼn groot moderne huis in my plek bou.” Die ou man en sy ewe ou vroutjie verstaan nie die huisie se hartseer nie. Hulle kyk net bekommerd na mekaar as hy so kraak en ween en dan sê die ou man: “Ek sal na die dak moet kyk. Dalk is daar van die balke los, maar ek is te oud om op te klim.”  Die klein huisie hoor dit en dan kraak hy nog meer, want hy weet die ou man sal hom nie kan regmaak nie.

Op ʼn dag, stop daar ʼn groot vragmotor voor die pienk huis met die blou dak.  Die klein huisie kyk verwonderd hoe die mense die meubels uitdra en teen die aand trek die vragmotor weg. Die pienk huis staan met pikswart vensters. Die mense het getrek.  Die klein huisie wonder wat aangaan. In sy hartseer het hy nooit eens agtergekom dat die partytjies langsaan minder raak nie.  Hy was so bekommerd oor sy eie probleme dat hy nie agtergekom het dat die groot huise ook stiller raak nie. Miskien verbeel hy hom maar net. Dalk is die mense net weg of het weereens nuwe meubels gekoop. Dalk het hy net nie gesien toe hulle die ander meubels afgelaai het nie. Hy sal môre vroeg, as die son sy koppie uitsteek, beslis mooi kyk wat daar aangaan.   
   Die volgende dag, toe dit lig word, sien hy dat daar regtig niemand is nie. Daar is ook nie gordyne voor die vensters nie! Die mense van die pienk huis is weg!  Een dag na die ander gaan verby, maar daar trek niemand in die pienk huis in nie. Die partytjies by die geel huis is ook baie minder. Die klein huisie bly eers doodstil, maar later besluit hy om tog maar te vra wat aangaan.  “Hey, Geel huis! Hoekom is dit deesdae so stil hier by julle? Wat het van die pienk huis se mense geword?” vra hy vir die geel huis.
Die geel huis sug diep en toe antwoord hy: “Dit gaan nie goed met ons nie. Ons eienaars kry swaar. “
“Wat het gebeur?” vra die klein huisie.
“Die huise is te duur. Ons eienaars kan dit nie meer bekostig nie.” Gaan die geel huis voort. “Die mense het te veel geld uitgegee op partytjies en dinge en hulle was baie ongelukkig. Hulle het nie gesing en gefluit soos die ou mannetjie en sy ewe ou vroutjie wat in jou woon nie.”
Die klein huisie is verstom.  Sowaar! Hy was so behep met die ander huise dat hy nie eens gehoor het hoe gelukkig die ou mannetjie en sy ewe ou vroutjie is nie!
“Die vrou van die pienk huis was kwaad omdat sy nie meer geld kon uitgee nie en het besluit om by haar ouers te gaan intrek.” vertel die geel huis verder.  “Sy wou ook nie meer die man hê nie, want  hy kon nie meer alles betaal nie.  Hy het ook maar na ʼn goedkoper huis getrek.” sug die geel huis.
Die klein huisie met die pienk dak het so jammer gevoel vir die pienk huis. Nou is hy heeltemal koud en alleen. Geen partytjies en vrolikheid meer nie. Niemand wat die tuin versorg of die stoffies van sy mure afwas nie. Die geel huis se mense het ook stiller begin lewe, maar die huise het darem nie meer met die klein huisie gespot nie.  Skielik hoor die klein huisie as die ou vroutjie sing en hy probeer saam met die ou mannetjie fluit wanneer hy groente skil.  Hy blaas die wind so saggies deur sy stukkende geute en sukkel om die note suiwer te fluit.
   
Twee weke later, hoor die klein huisie hoe die ou vroutjie vir die ou mannetjie vertel dat hulle seun kom kuier. Hy het glo ʼn groot verrassing vir hulle. Baie opgewonde begin die ou mense en die klein huisie die dae tel tot die seun kom.  Die ou vroutjie bak en brou in die kombuis en sing lustig terwyl sy die deeg uitrol en die kos maak.  Die ou mannetjie maak die werf mooi skoon. Hy hark die blare en vee die stoepe.  Hy probeer die tuinhekkie regmaak en hy fluit tog te lekker terwyl hy dit doen.
   Vroeg Maandagoggend  begin die ou vroutjie al kook en gereedmaak. Net na ontbyt stop ʼn vragmotor met werksmense voor die klein huisie.  Die seun klim uit. Die ou vroutjie, wat haar seun deur die venster gesien het, stap haastig uit terwyl sy na haar ou man roep.  “Ou man, kom gou!  Boetman is hier!”  roep sy vrolik uit en vee haastig haar hande aan haar voorskoot af. Sy en die ou mannetjie waggel haastig op hulle ou beentjies na buite.  Verbaas steek hulle vas toe hulle die gewoel buite sien.
   “Wat gaan aan?” vra sy.
   “Genade seun!” roep die ou man. “Wat op aarde doen jy met so baie mense hier?”
Die seun lag net, soen hulle  en sê: “Hallo liewe ouers. Dit is die verrassing waarvan ek gepraat het. Ek was so gelukkig in hierdie ou huisie en my kinders kuier altyd so lekker hier. Ons het besluit om die ou huisie weer reg te maak en mooi te verf. Dit sal hom mooi laat lyk en dan kan ons weer trots wees op ons Huppelhuisie. 
“Hoekom sê jy Huppelhuisie?”  vra die ou mannetjie.
“Dit is die naam wat my kinders die huisie noem, Pa.  Hulle sê mens is so gelukkig hier dat mens net altyd wil huppel en daarom noem hulle hom Huppelhuisie” verduidelik die seun.
   Die klein huise staan verstom. Hy weet nie of hy mooi verstaan wat die seun bedoel nie, maar hy vra liewer nie. Dit klink dan vir hom of hy weer mooi gemaak gaan word. Sê nou net hy het reg gehoor!  Dan gaan die ander huise hom mos nie meer spot nie!  Hy gee sommer ‘n krakie van pure blydskap en fluit ‘n vinnige “foeeiiii” deur een van die stukkende geute. En hy hou sommer baie van sy naam ook. “Huppelhuisie” fluister hy saggies deur sy stukkende geute.
Hy is darem so ‘n klein bietjie bang ook. Sê nou dit is seer as hulle aan hom werk?  Ag, hy gaan hom nie nou daaroor bekommer nie. ‘n Klein bietjie seer is niks. Solank hy net weer mooi lyk.

ʼn Hele paar dae lank werk die mense aan die klein huisie. Eers haal hulle al die stukkende geute af en maak die dak reg. Hulle kyk dat daar nêrens ‘n plekkie is waar die reënwater dan deurlek nie.  Dan sit hulle splinternuwe geute op.   
Dan vul hulle die krake in sy mure met ‘n spesiale kraakvuller.  Die huisie is verstom.  Dit was so seer daar waar die mure so gekraak was en nou is dit so lekker, want hy voel nie meer hoe die krake al langer word nie. Wanneer die kraakvuller droog is, skuur die werksmense die mure en ook die ou verf van die dak af. Dit kielie vreeslik.  Die huisie giggel te lekker.  Die mense is so besig dat hulle hom nie eens hoor nie.
Nadat die huisie orals ordentlik geskuur is, word dit met suikerseep en water gewas sodat al die stoffies af is.  Dan bring die verwers ‘n onderlaag. Hulle verf dit eerste aan sodat die regte verf sal klou.  Daarna verf hulle die ou huisie weer mooi wit en sy dak pienk.  Sommer gou lyk die huisie weer soos ʼn nuwe huisie. 
Nou maak hulle die paadjie reg.  Die ou sement word opgekap en weggery.  Die mense bring grond en stamp dit vas en dan pak hulle ‘n netjiese tuinpaadjie met sementblokke en mooi klippies.  Die seun plant grassies tussen die klippies.  Hy sit ‘n splinternuwe heining om die huisie en ook ‘n nuwe hekkie.  Voor die hek, sit die seun ʼn bordjie op. Op die bordjie het hy “Huppelhuisie” geskryf.
Die huisie lyk tog te spoggerig en hy kan nie glo dat weke se werk nou so mooi kan lyk nie.  Die ou mannetjie en sy ewe ou vroutjie is trots op hulle huisie.  Die vroutjie sing mooier terwyl sy kook en die mannetjie fluit harder terwyl hy die groente skil.  Die seun glimlag net as hy so na hulle kyk.  Toe alles na sy sin is, groet hy en die werksmense weer en vertrek terug na hulle huise.  Die seun belowe om die vakansie sy kinders te bring sodat hulle by Oupa en Ouma kan kom kuier.

Elke motor wat voor die klein huisie verby ry, staan eers stil om hom te bewonder en die ou mannetjie en sy ewe ou vroutjie kyk trots deur die vensters. Waarlik, dit is ʼn huppelhuisie. Klein en eenvoudig, maar met liefde gevul.

Die klein huisie het nie meer skaam gekry nie. Hy het trots en regop daar gestaan en vrolike deuntjies deur sy nuwe geute gefluit. En die ander spoghuise? Hulle was baie jaloers op die klein huisie wat so gelukkig is en het hom nooit weer gespot nie.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #1 on: August 05, 2011, 05:59:46 AM »
Wat 'n pragtige storie, Gaafs.  Eendag as jy weer 'n boek uitgee, moet jy asseblief al jou kinderstories daarin sit. Ek wil dit beslis aanskaf vir my (hopelik toekomstige) kleinkind.
Laat my weet of jy nog 'n boek het na 'Masimo'.
Ek sal beslis dit wil koop.
Lekker dag.
elle

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #2 on: August 05, 2011, 06:07:13 AM »
Elle, ek het nog 1boek van Plaasbabas.  Stuur vir my jou adres en ek pos hom vir jou.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10694
  • Gender: Female
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #3 on: August 05, 2011, 09:47:31 AM »
Dit is pragtig Gawie.  Ek sien al my driejarige kleinding trek sy bekkie op 'n plooi en sê:  "Ek wil nog hoor!"  Jou stories is almal so mooi, dit kan net 'n aanwins vir die boek wees. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #4 on: August 05, 2011, 03:15:57 PM »
Kan jy nou meer! Klein Eric is niks nie beïndruk met sy juffrou nie.  Hierdie storie is te kort. Ek moet liewer Maurits en die brandweer insit.  Dit is glo die mooiste ene.  en daar moet prentjie by wees.  Nou seg ek niks nie meer nie. hehehehe

Ek het gistermiddag vir Anchen die storie gelees.  Sy het doodstil gelê en luister soos toe sy nog klein dogtertjie was. Toe ek klaar is, seg sy Ma se stories wil my altyd aan die slaap laat raak.  Ek giggel toe en vra of hulle dan so vervelig is waarop sy ewe antwoord, nee dis hoe ek dit onthou.  Nee jis, my hart wil breek as ek dink sy gaan huis verlaat.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #5 on: August 06, 2011, 07:32:13 AM »
 :hello:

Pragtig!

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Die huis met die pienk dak.
« Reply #6 on: December 26, 2017, 10:19:29 PM »
sit ek nou en wonder hoe gaan dit met Gawie se mooi dogters?  :hello:   :love7: 
adéle  :grommit: