Gewoonlik is die eerste ding wat in meeste gesonde eetplanne taboe is, natuurlik alkohol. Dan volg die gewone verskoning wat ons rooiwynliefhebbers gebruik (Outop en ek ingesluit lol) - dit is gesond! En dan natuurlik die 13 goeie minerale waarna verwys word op die grafiese ontwerp.
'n Nuwe studie dui vir die eerste keer daarop dat natuurlike antioksidante in rooiwyn en NIE die alkohol nie, voordelig vir jou hart is. Navorsers in Spanje sê die alkohol verminder die rooiwyn se vermoë om bloeddruk te verlaag, wat enige voordele uitkanselleer.
Hulle het bevind dat mans met 'n hoë risiko vir hartsiekte, laer bloeddruk gehad het nadat hulle elke dag vir vier weke nie-alkoholiese rooiwyn gedrink het.
Die navorsers het 67 mans met suikersiekte of drie of meer kardiovaskulêre risikofaktore bestudeer.
Die mans het dieselfde dieet gevolg, maar dit met verskillende drinkgewoontes gekombineer.
Hulle is versoek om óf 300 ml rooiwyn, nie-alkoholiese rooiwyn óf 90 ml jenewer per dag te drink. Hulle het in die vier weke 'n kombinasie van die kos en drank op die proef gestel. Die rooiwyn en nie-alkoholiese wyn het gelyke hoeveelhede polifenole, 'n antioksidant wat bloeddruk verminder, bevat.
Hoë bloeddruk (hipertensie), ofte wel hoër as 140/90, is 'n groot risikofaktor vir hartsiektes en beroerte. Die eerste syfer, die sistoliese druk, korrespondeer met die 'opwelling' wat met elke hartklop in jou are plaasvind, terwyl die diastoliese lesing dui op die drukking tydens die 'rusfase' tussen hartkloppe.
Tydens die rooiwynfase het die mans net 'n klein vermindering in bloeddruk beleef en daar was geen verskil toe hulle jenewer gedrink het nie.
Toe hulle egter nie-alkoholiese rooiwyn gedrink het, het hul bloeddruk met sowat 6 sistoliese en 2 diastoliese punte gedaal, wat die risiko van hartsiekte met 14 persent en van beroerte met soveel as 20 persent kan verminder.
Die studie is in die Amerikaanse Hartvereniging se joernaal, Circulation Research, opgeteken.
Bron:
http://www.republikein.com.na/kollig/rooiwyn-is-goed-vir-jou-maar.155565.php