Middernag Spookhof
Ek, vreesloos, onverskrokke, Reccie
Spoorsnyer sonder weerga
Snuffelaar van die bos, verkenner
Ek alleen en my tentjie
Ek! Bang vir die nag?
Nooit gesien, ‘n skalkse lag
Skelm loer oor die skouer
Mens weet nooit……
Tent opslaan ‘n lastigheid
Uitgestel met: dis nog vroeg
‘n vuurtjie, en ‘n minuut word tien
Want my tentjie wag, ook die nag
Slaap sluip soos ‘n dief, ‘n reccie in eie reg
Donker, diep, droomloos, dood
Reccie slaap rustig, o so onskuldig
Tot die uur wanneer spoke loop
Ontwaak in angssweet bad, plotseling
My slapie maar ‘n oogwink lank
Dagbreek o so ver – ‘n dagreis te voet en een
My tent gevul met gister se gruwels
My tentjie my hofsaal
My regter my gewete
My aanklaer my gruwel verlede, en
Die getuies slagoffers van my gruweldade
Hoe pleit die reccie
Onskuldig – dagbreek maak gou
Hoe pleit die reccie!
Onskuldig – in belang van ….
Skimgetuies een vir een
Daar’s die oudste by sy hut
Die boer se vrou, sy was tog skuldig
O God nee, nie die kinders
Een vir een voor my, dapper angsbevange
reccie Inkswart oogkaste vurig, leeg, dood, beskuldigend
Hoe pleit jy reccie, vra gewetensregter
Onskuldig! Verstaan tog, in belang van …
My versugting na dagbreek ‘n angsroep
Hoeveel langer die marteling nog?
Dagbreek ‘n dagreis te voet weg
Kom dagbreek, verlos my van gister se vergrype
My gewete, my regter roep
Verhoor verdaag, tot volgende nag
In die uur wanneer spoke loop
Slaap, slaap reccie, dagbreek maar ‘n oogwink ver
Te gou die dagbreek
Te skielik die dag
Aandster, donkermaan – sonsberower
O genade, my tentjie, my hofsaal wag