’n Sprokie hou nooit op nie. Wanneer dit eers begin het, kan geen doringbos dit keer nie. Ons sprokie het vyf jaar gelede begin… 11 September 2010. Dit was ‘n ontmoeting vir oggendtee en gesels en kort daana het Alleen die trekpas gekry. Elkeen van ons het na ’n sielsmaat gesoek en dit in mekaar gevind. Hoeveel van ons is dit beskore?
Huiwering vir seerkry, het ons Vader weggevee. Later van tyd het ander se jaloesie aan die deur kom klop, maar ook dit het Hy vir my gedra. Vir ons het Hy drie jaar gegee. Drie jaar om mekaar aan te vul, te dra en te versorg. Musiekaande en natuur-uitstappies, Bybelstudie en Geloof, en die lagplooitjies om jou oë het ons na aan mekaar gebind.
Ek steek ’n kers aan en luister na die naggeluide om my. Elke veraf-jakkalsroep herinner aan jou woorde: ‘los nou eers en kom luister saam met my’ wanneer jy stoep toe stap. Al sit ek met my vroegoggendkoffie vir die sonsopkoms en wag, of gee my siel toe-oë oor aan die harmonie van jou gunsteling-simfonieë, jou rustigheid en vrede bly my by.
‘Vreugde en vrede is wat ek in dié lewe wil hê’, het jy gereeld gesê. ‘Ek het dit nie altyd ervaar nie, maar nou sluit ek my lewe daarmee af,’ was jou woorde nog gewees. Hoe kan ek dit ooit vergeet? Maar sou die onmoontlike van vergeet, dalk tog wil gebeur, is hier soveel vriende wat saam met my onthou. Ek sou graag hulle name wil noem, maar is bang ek laat iemand uit. Gereeld vertel iemand ’n onthou-staaltjie of sê hoeveel hulle jou en jou vreugdelag mis.
Vyf jaar, vandag. En waar ek aangaan om te luister na alles wat jou soveel vreugde verskaf het, loof ek ons Vader vir die voorreg wat Hy my gegee het om jou onvoorwaardelik lief te kon hê. Mag Hy ook aan ander hierdie genade gee om mekaar werklik lief te hê, om te gee vir mekaar omdat hulle so besluit en nie verwag dit moet altyd net van een kant af kom nie.
Onlangs het ek iets oor Christus se liefde gelees en wil dit so bietjie aanpas:
Wees lief vir jou maat soos jy jouself lief het. Moenie nét vir jouself lief wees en verwag jou maat moet net so lief wees vir jou soos wat jy jouself het nie.
Ek onthou jou woorde aan iemand:
Jaloesie op ’n ander se geluk, bring jou nêrens nie. Gebruik daardie energie liewer om jou maat alles te gee wat hy of sy graag sal wil hê sonder om iets terug te verwag. Stap saam met Jesus en beleef die wonder van Liefde. Dan sal jy ook besef hoe maklik dit is om skuld te erken en vergifnis te gee.
Dit is iets wat ek in die sprokiesjare wat ons gegun was, by jou geleer het. Daarom sal hierdie sprokie nooit ophou nie. Al loop my voete later op paaie weg van hierdie dorp, sal ons sprokie aanhou om aan ander te vertel hoe kosbaar liefde werklik kan wees.