Meraai vannie baai: Van tyd tot tyd wil ons net uit die taalreëltronksel ontsnap na 'n wêreld sonder teuels - vry sonder kommer oor 'n komma of 'n punt - sommernetskryf vanuit verbode droomsfere ...
Die woorddief het 'n pragtige gesegde van Naas geskaai by die gevreetboekie: Taalreëls is die remskoen van die verbeelding. (Ek het gebruik gemaak van 'tipografiese wit' om rusplekke aan te dui met die gebrek aan leestekens in die kaalvoetgedig)
blaaie van my geheue
soms wens ek dat die blaaie van my geheue uit kon skeur
dat ek dit kan opfrommel in 'n bondeltjie en weggooi
op die wanhoop's hopie van onthou waar paaie vurk
en vergeet met die tyd heling moes bring
dikwels bid ek vir die salf van vergifnis
om oor die letsels van onthou te kan smeer
dat dit nie meer die rou emosie ontketen waar winter
in 'n maalkolk vasgevang net aanhou en aanhou
baie keer peins en wonder ek oor
hierdie bladwisselende emosies
dan ontvou die beelde van baie seisoene
en dankbaar vir die gawe van onthou
herleef ek die kortstondige somers
in skakerings van herfs geverf
tot ek ingedagte oor die letsels
van gisters vryf...
krap jou woorde rowe af en wens ek opnuut
dat die blaaie van my geheue uit kon skeur
voordat onthou uit gister se winter weerkaats
en my soos 'n emosievraat agterlaat
© Meraai vannie baai
Gawelina se kaalvoetgedigte: In die koelte van jou berg
in die koelte van jou berg
wil ek rus kom vind
my uitstrek in jou grot
en eggo’s van jou stem
teen kranse hoor
dorstig wil ek drink
van koelstroom lafenis
teen jou veldreuk lyf
my liggaam saggies vly
tot jou stem die pyn verdof
en ek wegraak in poelblou oë
voer my die vrug van jou lippe
teen skemeraand
lê my neer op sagte mosvloerbed
maak my dan jou feëprinses
en wees my woudprins vanaand
© Gawelina
Skeepswrak van lus
as branders van begeerte
onstuimig om my breek
en ek wanhopig spartel
om dit hok te slaan
kom jou stem op die
stormwind se gedruis
verleidend lokkend
verbete veg ek
om kop te hou
betowerd volg ek
elke nuanse
elke sagte sug
jou hartklop my
roete na jou rots
teen jou breë bors
lê die wrakstukke
van my oorgawe
te laat om om te draai
© Gawelina
Vuur
gloeiend lê begeerte
sluimerend en wag
swygend oor die wete
wag ek vir ‘n vonkie
weerspieëling van my hart
hoop ek durf ek
spelend blaas jy
‘n gloed tot hittevuur
jou vlamme
skroei my binneste
lek-lek aan die wande
van my brose vroulikheid
nou droom ek onbeskaamd
in jou kaggelvuur se gloed
woed hunkervlamme
stormagtig binne my
wag ek ongeduldig
op jou tuiskoms
eendag
© Gawelina
Motreën verlange
die traandruppel onthou
daar teen my versterruit
laat my dink aan jou
en aan ‘n motreëndag
net soos vandag
ons twee wat kaalvoet
in die poele plas
jou opgewekte lag
arms gestrek na bo
asof jy die druppels
teen jou bors wil vou
die druppels op my wange
wat blinksag na jou roep
jou warm asem in my nek
toe jy dit met jou tong aflek
arms styf om my lyf gevou
‘n vrolike rondomtalie draai
die polsende druppel melodie
van ons motreën liefdesdans
die modderkoekies reënvreugde
traandruppel onthou
daar teen my vensterruit
laat my dink aan jou...
ek onthou
© Gawelina