Author Topic: 'n Ma vir kersfees [geskryf vir plasing in 'n spesiale kersfeesbundel]  (Read 5092 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
“Daardie kersfeeste is amper hier, Mevrou. Wanneer gaan ons hierdie boom opslaan?”

“Toemaar, Sara. Los die goed in die kas. Ons gaan niks opslaan nie.”

“En hoekom nogal nie? Hoe wil jy nou kersfees sonder ’n boom? Waar moet ons dan onse boksies pak? Elke jaar moet die groen boom in die hoek gaan staan sodat almal hulle boksies doer onder kan pak. Wat gaan jou se mamma daarvan sê?”

Dorethea se oë skiet vol trane. Wat gaan haar ma sê … wat kan sy sê? Gister het sy by haar ma ingeloer.

“Mamma, dis die vyf-en-twintigste. Oor ’n maand is dit kersfees. Maar dis ook twee jaar vandat Pappa weg is. Onthou jy, Mamma?”

“Niemand is weg nie. Jou pa is in die studeerkamer. Gaan gooi jy gou vir ons koffie in. Ek gaan hom roep.”

En so het haar ma opgestaan en weer gaan sit. Haar bene wil haar nie meer dra nie. Dorethea het haar stoel gevat en haar na die tuinbankie gestoot. 

“Dit maak tog nie saak nie, Sara. Sy weet nie meer nie.”

“Juistemint, daarom moet ons dit weer vir haar wys.”

Dis omtrent twee weke later. Die sitkamer se gordyne is toegetrek sodat ’n skemer die vertrek koel maak. In die hoek staan ’n kersboom, ’n nuwe. Daar is nie veel aan nie, maar ’n stringetjie liggies flikker reeds daarom.

“Sara! Wat gaan hier aan? Sara, ek wil nie ’n boom hê nie. Dis seer in my hart. Hierdie jaar is alles weg wat saak gemaak het. Hoekom doen jy dit?”

“Omdat alles nie weg is nie. Dis net jy wat so dink omdat jy kwaad is.”

“Ek het alle reg om kwaad te wees.”

“Nee, jy het nie. Onse Vader daarbo in sy Hemelse Huis stuur sy Seun om by ons te wees, maar jy is kwaad.”

Daardie aand maak Dorethea haar Bybel oop. Die roos is al so verkrummel, maar sy gooi nie die stukkies weg nie. Sy lees deur die paar verse van 1 Kor 13. Liefde is alles, lees sy weer. Liefde, geloof en hoop. Dan soek sy na ’n vers wat in haar hart opkom en vind dit in Joh 19: 25. Dan maak sy haar oë toe en bid.

“Here, U het my kind geneem … sy was al wat ek gehad het. En my ma, Here, sy is amper nie meer. Maar Jesus, U moeder se seer was mos net so erg soos wat myne is? Hoe verskriklik swaar moes dit nie vir haar gewees het om U gebreekte, gekruisigde liggaam te sien nie?”

Oukersdag breek vol onweerswolke aan. Onder die boom is Sara se boksies; een vir haar en een vir haar ma. En sy het ook ’n pakkie vir haar ma en een vir Sara daar neergesit. Sara het die tafel gedek. In die kombuis is koue vleis en slaaie.

“Wanneer  gaan jy jou ma haal?”

Verbaas kyk Dorethea na haar.

“Ek gaan haar nie haal nie, Sara. Sy sal nie eers weet wie ons is en wie se plek hierdie is nie.”

“Dis nou sommer nonsens. Loop ry, gaan haal haar. Geen oumens verdien om vandag alleen in so ’n plek te wees nie. Hulle moet by hulle se kinders wees.”

Sara kom uit toe Dorethea naby die deur stilhou en maak die motordeur oop. Sy groet haar oumevrou met ’n breë lag en plooitjiesoë, maar Oumevrou kyk haar net fronsend aan. Dan help hulle haar in die rystoel en stoot haar na binne. 

“Ek bring die tee. Sit by haar sodat ons die boksies kan uitdeel voor ek huistoe gaan.”

Dorethea luister maar net. Wat help dit om aan Sara te verduidelik dat haar ma nie sal verstaan nie. Maar dan gebeur dit! Sara gee hulle boksies aan en haar ma se gesiggie helder op soos die sonstraal wat skielik deur die wolke breek en oor hulle val.

“My kind, ek het geweet jy sal my kom haal. Hoe kan julle dan sonder my pakkies uitgee? Dankie Sara, vir ons boom en presentjies en vir jou geloof.”

Dan kyk sy na haar dogter.

“My kind, ek weet jou hart is stukkend oor klein Magda se dood. Alleen moes jy haar grootmaak en na Pa se dood nog na my ook kyk. Nou is dit net ek en jy en ek is meeste van die tyd ook nie by nie. Maar onthou, Christus se ma, Maria, het ook almal wat vir haar lief was, eenkeer verloor. Nou het ons nog ons Vader en mekaar.”

Met trane wat oor haar wange loop, kniel Dorethea voor die rystoel en lê haar hande in haar ma s’n.

“Mammie, ek is so jammer. Dit is vir jou net so swaar, elke keer wanneer jy weer onthou, maar ek was so vasgevang in my eie verdriet, dat ek van joune vergeet het.”

Haar ma streel oor haar hare en glimlag die mooiste glimlag met blink oë.

“Die liggies is so mooi, dankie Sara.”

Sara se hart raak rustig en sy weet sy het die regte ding gedoen. Sy kan nou in vrede na haar huis en haar kinders toe gaan om ook daar hulle boksies uit te deel.


 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: 'n Ma vir kersfees [geskryf vir plasing in 'n spesiale kersfeesbundel]
« Reply #1 on: November 05, 2013, 07:13:10 AM »
Pragtig geskryf.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: 'n Ma vir kersfees [geskryf vir plasing in 'n spesiale kersfeesbundel]
« Reply #2 on: November 07, 2013, 08:46:15 AM »
Baie dankie vir die deel Adéle, dit is werklik aangrypend.   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3663
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: 'n Ma vir kersfees [geskryf vir plasing in 'n spesiale kersfeesbundel]
« Reply #3 on: December 17, 2015, 11:46:28 PM »
Hoe kosbaar! Skoon bewoë nou matertjie :crybaby2: Die grootste geskenk vir Dorethea en moederlief was die oomblikke van herlderheid.