Author Topic: Plaasfoune..  (Read 4137 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Plaasfoune..
« on: September 08, 2013, 09:47:53 AM »
Drie langes…
Die foonnommer op die plaas was 1603, drie lang luie en ons weet die oproep is vir ons.  Ek onthou ook Oom J en Tannie D se nommer, 1630, drie kortetjies.  (Ons hou maar by die voorletters om die mense te ‘beskerm’ al is hulle lankal nie meer met ons.)   Soms dink Tante D die lui is vir hulle, dan is dit eintlik vir die Ferreira’s.  Hang af van hoe lank jou lank en hoe kort jou kort luie is.
Na die tante se afsterwe, bly die oom sielsalig alleen op daardie plaas.  Hy is oud, hardhorend en praat deur sy neus.  En as hy iets gedoen wil hê of wil dorp toe, dan lui hy en my ma moet doen of saamry dorp toe.  Dorp is òf Wittedrift òf Knysna. 
Ag, ons het meermale die geklik gehoor aan die anderkant van ‘n inluisteraar se foon wat neergesit word nadat die sappigste stukkie afgeluister is.
Die sentrale, soos in ‘Nommer Asseblief’, was op Plett.  Die tannies het voor daardie skakelbord gesit en toutjies insteek en uittrek en met ‘n paar oorfone op.  Soms het die uittrek bietjie langer geduur as wat nodig was en volgende week het jy ‘n verhouding gehad, of ‘n egskeiding, of jou kinders het luise of jy is alweer swaner, jou VIERDE!! En die laaste enetjie is nog nie eens uit die doeke.
My een boetie het heerlik met die foon teen die oor gesit op die riempiestoel by die foon teen die muur en afluister.  Hy was so klein, moes eers op die stoel klim om die foon, daardie swartes met die slinger, van die mikkie af te haal en dan het hy plaasgeneem op die stoel.  Beentjies opgetrek, sit hy daar.
Die twee tantes het seker oor eiers gepraat, moonlik ‘n resep uitgeruil, toe Marius sê:  ‘O, wil tannie eiers hê?  Hier is hope, die henne sit sommer so.’  Vadertjie, en dit was juis in die tyd wat die henne nie ‘n enkele eier gelê het nie. 
Oom J skakel, sulke bewerige, rukkerige lang luie, wil met ma praat.  Die verkoopsmannetjie het hom oorreed om van die bottelgroen moustertjier, nogal outomaties, ontslae te raak en ‘n nuwe karretjie te koop.  So sukkel ma en oom J Knysna toe om die nuwe mouster te gaan haal.  Knysna is so 25km van die plaas af, maar dit vat heeldag, omtrent, om daar te kom.  En dan lê die tog terug bult uit ook nog voor.  Vertel ma toe sy weer veilig by die huis is, hulle het heelpad omtrent 10km per uur aangekruie gekom in eerste rat met die nuwe ratkar.  Oom J was te bang om die mouster in 2de rat te sit, want dan gaan dit bietjie vinnig.  Daai mouster het sekerlik gekook toe hulle stop by ons op die plaas.  En hy moes toe nog so 4km verder ry om by sy opstal te kom.
Statige ou plek gewees waar die oom en tante gebly het.  Opstal teen die bult met ‘n laaaang laning bome van onder van die hek af.  Seker so km verder bultjie op.  Lemoenbome wat knus teen die huis gestaan het en ‘n visdammetjie sonder vis, net platannas en waterlelies.  Ons loop tot by die oom-hulle en vra dan of ons van die lemoene, wat swaar hang aan daardie boord bome, kan pluk.  Dan kom die deur-die-neus-antwoord:  ‘Julle kan van die lemoene onder die bome optel.  Julle pluk niks.’  Dit was die vrottes.  Natuurlik pluk ons van die bome af.  Watwou.
Heerlike, salige dae vol klippaaie en stofpaadjies en bekslaan-hekke.  En telefoonpale en drade wat zinnggggg. 
Vandag is daardie area ‘n Rhino Basecamp.  En die opstalle net wit murasies toe ek laas daar was. Blykbaar is ook die murasies nou verwyder om plek te maak vir gastehuise. 

©Elsabe
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Plaasfoune..
« Reply #1 on: September 08, 2013, 10:28:50 AM »
Ek het nou heerlik saam met jou deur die onthou-nog-dae se lanings gestap Els.  Ek hoop daar is 'n opvolg.  Wonder net hoeveel van vandag se jongmense weet waarvan jy praat. 
AB het daardie "onthou jy nog" foto's vir my gestuur.  Dit neem 'n ou op ver paaie terug verlede toe.  Lekker oudae. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Plaasfoune..
« Reply #2 on: September 08, 2013, 07:27:18 PM »
Ons het nie daardie jare gedink dit was so spesiaal nie.  Nou weet ons dit was.
elle

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Plaasfoune..
« Reply #3 on: September 09, 2013, 07:34:21 AM »
Dit klink na lieflike herinneringe. Ek het nou baie lekker hier gelees.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Plaasfoune..
« Reply #4 on: September 11, 2013, 06:14:15 AM »
Dankie Fransi...
elle