Wanneer ek soms,
in die beenkamer van my huis ronddwaal
en wegkruipertjie speel met ek,
blyk ek verwonderd te word
deur die deurmekaarheid
van die store in die grysmassa.
Hoe kan logika so verward rondlê
in die gange van jare se opgaar?
Wanneer ek vergeet se hope afstof
en blink politoer vir onthou
kry ek seermaakgereedskap in die kaste
wat liewers op ‘n motorhuisverkoping hoort.
Dit waaroor my siel so struikel
en my tot opswelletsels toe laat val.
Waarom al die jare saamgesleep
deur selfgemaakte hel?
Dan die seer besef…
My beenkamer het nie ‘n uitgooideur nie.
Daar is net vergeet se stof
wat salwend neersif
om seer se onthou toe te maak.
En as ek ophou afstof…
dan vee vergeet die seerkry uit.
