Nou die dag, wanneer nog, loop ek in die dorp. Skielik is daar 'n geblaas van toeters en skreeuende remme. Toe ek opkyk sien ek dat 'n baie aanvallige jong dametjie sommer hier roekeloos oor die pad hardloop. Dit was so hitte te of die motors het haar om gery. Om my nog verder te verbaas storm sy reg op my af. Ek probeer nog om uit haar pad te kom maar sy is soos 'n “heatseaking” missiel en laat haar nie pypkan nie. Sy loop my daar storm en gryp my om die nek in 'n omhelsing wat selfs 'n seekat na 'n skaam diertjie sou laat lyk.
Nou kyk, dis mos nou nie aldag dat 'n ou bok soos ek deur so 'n pragtige jong dingetjie aangerand word nie, daarom laat ek haar maar eers begaan. Na 'n rukkie merk ek dat die mense staar en voel ek so 'n bietjie ongemaklik. Ek stoot hoor baie liggies van my af weg want ek wil nou nie die indruk skep dat ek nie van die behandeling hou nie. Vir my part kan sy maar so aanhou, maar ek wil darem weet waarom ek so bevoorreg is. Toe ek haar so 'n armlengte van my af het sê ek vir haar: “Luister juffroutjie, ek is nou baie gevlei dat jy so gaande is oor hierdie ou bok, maar lig my ook asseblief tog in waaroor die eintlike aandag nou werklik gaan.”
“Erken jy my dan nie?” Wil sy grootoog weet.
Hier is nou vir jou 'n ding. Ek is hoeka deesdae so vergeetagtig, Alzheimer’s Light, maar ek is ook seker daarvan dat ek dit sou onthou het as ek voorheen so 'n aanvallige jong dame ontmoet het.
“Om jou die eerlike waarheid te sê, nee. Ek kan glad nie onthou dat ek jou al ooit voorheen gesien het nie.” Antwoord ek baie versigtig.
“Jy is mos Ignaas van tannie Poppie.....” en sy begin my hele “pedigree” uitlê aan my pa en my ma se kant tot net voor Moses.
“Jy’s reg.” Erken ek. “Maar ek weet nog steeds nie wie jy is nie.”
“Ek soek al jare na jou. Ek het al die inligting oor jou uitgevind en hier loop ek jou nou raak.” Daar’s trane in haar oë en sy val my weer om die nek.
“Wag nou, wag nou, wag nou! Hierdie gewoonte van jou om my so om die nek te val is baie genotvol en ek kan dalk daaraan gewoond raak maar ek moet weet waaroor dit gaan.
En toe, tussen die trane deur ontvou 'n storie van reïnkarnasie en liefde in 'n vorige lewe en 'n aaklige dood onder 'n motorkar. Volgens haar het ek en sy in 'n vorige lewe in die einste Paarl gewoon as honde. Ons was glo baie lief vir mekaar en het selfs 'n werpsel of drie klein hondjies saam gehad. Die gelukkige lewe is egter wreed onderbreek toe ek 'n kat oor die pad gejaag, en onder 'n motor beland het. Ek is aan veelvuldige hoofbeserings dood.
Dan moet ek haar weer stilmaak want sy begin grepe aanhaal uit 'n lewe waarvan ek toet en taal niks onthou nie.
“Dis nou alles goed en wel,” sê ek, “maar ek het nog nooit, en sal ook nooit, in reïnkarnasie glo nie.”
“Maar dis alles waar!” probeer sy my nogeens oortuig.
“Nee. Dis teenstrydig met alles waarin ek glo.”
“Maar ek kan dit bewys.”
“Hoe?”
“Wanneer jy in jou nuwe liggaam gebore word behou die nuwe liggaam iets van die skade waaraan die vorige liggaam gesterf het. Ek is seker daarvan dat daar 'n onverklaarbare merk van een of ander aard aan jou kop is wat jy van die motorongeluk oorgehou het.”
Ek skrik maar probeer om dit nie te wys nie. Daar is wel so 'n duik in my skedel, reg onder my kroontjie.
“Dit bewys niks nie.” bly ek hardekwas. “Jy kon die merk op my kop gevoel het toe jy my so vuriglik omhels het. Ek is seker daarvan dat my ma wel 'n verduideliking vir die merk sal hê, en van waar ek dit opgedoen het. Ek het al 'n slag as jong seun uit 'n bewegende motor geval en kon die merk daar opgedoen het.”
Sy hou aan en ek besef ek sal hier drastiese stappe moet neem. My vrou gaan nie verstaan as ek met so 'n mooi jong bokkie by die huis aankom en haar probeer wysmaak dit is die ma van my kleintjies uit 'n vorige lewe toe ek 'n hond was nie. Wat sy wel sal glo is dat die vrou 'n teef was of is. Ek maak dit baie duidelik dat ek niks met haar te doen wil hê nie en los haar al tjankend net daar op die sypaadjie. Wat van haar geword het weet ek nie en ek dink ook nie ek wil weet nie.
Daardie aand, terwyl ek in die bed lê, dwaal my gedagtes. Ek was ses jaar oud toe my pa vir ons 'n Ford Fairlane 500 koop en daardie Desember toer ons deur die land met die Ford. Dis ons gesin van vier en my Oupa en Ouma aan pa se kant. Die Ford is vol en ek sit voor op Oupa se skoot. Baie van die familie wat ons gaan besoek bly op plase en wanneer ons plaaspaaie ry moet ek elke keer uitspring om die hekke oop en toe te maak. By elke hek kry ek een sent by Oupa vir my moeite. Ek het later 'n fortuin. (50c)
Terwyl ons op die langpad ry kyk ek en oupa wie die mylbordjies eerste sien. Die mylbordjies kom elke 10 myl voor en oupa loop gemaklik voor. Ek wen net as hy vergeet om op die motor se ritmeter te kyk hoe ver die bordjie nog is. (Ek is egter onbewus van die boereverneukery.)
Êrens in die Vrystaat, waar ek nog nooit in my sesjarige leeftyd was nie, gebeur daar egter iets waaroor ek my pa en my oupa baie keer hoor praat het. Hulle kon die volgende gebeure glad nie verstaan nie:
Ons nader 'n vreemde klein dorpie waar nie een van ons nog was nie. Omdat die mylbordjies 10 myl van mekaar was, was die laaste bordjie altyd die een wat sê die dorp is 10 myl. Daarna het jy die dorp gekry. By die spesifieke dorpie kry ek egter 'n betwisbare punt want daar is ook 'n 5 myl bordjie wat ek eerste raaksien. Oupa sê dit tel nie want die dorpie het verneuk. 'n Mens plaas nie 5 myl bordjies nie.
Op daai oomblik, en ek onthou die beeld vandag nog, sien ek, so duidelik soos daglig, in my geestesoog, hoe die Ford om 'n lang draai na regs gaan en by 'n spoorlyn stop. Net anderkant die spoorlyn is nog 'n bordjie. 'n 2 myl bordjie. Ek sê vir Oupa hy moet dophou want daar is nog 'n 2 myl bordjie net na die spoorlyn.
Ek sien Oupa frons. “Watter spoorlyn?”
“Die spoorlyn voor die dorp.”
“Hoe weet jy? Jy was nog nooit hier nie. Jy vat 'n vet kans.”
“Ek wed Oupa 50c dat daar 'n spoorlyn en 'n 2 myl bordjie net voor die dorp is,”
Oupa wed my.
Toe ons die draai na regs kry erken ek dit onmiddellik en sê vir Oupa hy moet nou kyk daar is die spoorlyn en die bordjie staan net daarna. Toe die Ford by die spooroorgang stilhou wys ek triomfantlik na die bordjie anderkant die spoor wat duidelik sê die dorp is 2 myl verder.
Oupa het net sy kop geskud en die 50c betaal.
Ek lê in die bed en. terwyl ek ingedagte oor die duik onder my kroontjie vryf wonder ek hoe ek die onbekende so helder kon sien. Of het ek dit al voorheen gesien,....deur die oë van 'n hond?