Vir die eerste keer in maande het my wildevytak hier gewankel. Die duiwe het geswyg; die mossies het getrek; die rooivlerkspreeus het met hul koppies skeefgedraai en my net aangekyk.
Die rots waarin die boom vasgeanker staan, het geweier om te kraak, maar die sonlig wat die klip gewoonlik warm bak, was dof en skraal.
Hierdie jaar sal ek nog lank onthou, neergeskryf in geloofstof maar dofgewaai met hartseerpoeier van onsekerheid en vrees en tsunamiese ongeloof van verlies.
In die tyd wat my mammie ons verlaat het, is nog vriende in die sorg-tehuis oorlede. In die afgelope drie weke is ons buurtannie, vyf kollegas, 'n kind van 'n kollega, my skoonsus se pappie van ons weggeneem... en vanoggend is my jongste se geliefde meisie begrawe. Sy was in 'n motorongeluk [hulle sou later vanjaar verloof geraak het] My kind se hartswense is versplinter, sy oe' is dof en sy stem stil. Sy was reeds in my hart ook my dogter. Ek huil saam met hom sonder snikke ... ons ronde trane stort oor die damwal van ons emosies. Sy was ook 4 maande swanger.
Ek kan my nie indink in haar ouers se rou smart nie ... sien net my kind wat soekend hier om my ronddwaal en ek klou vas aan 'n Soom van Christus se Kleed.