Kry ek laas naweek gaste met 'n seuntjie van so 5 jaar oud. Vertel die knapie vir my mos, hy eet nie tong nie. Ag man, ek kook nie tong nie, ek maak kabouterskoene.
Nee, hy sit nie sy mond daaraan nie. Trek die neus op 'n knop!
Nou bly daar heelwat tong oor en ek besluit om dit bietjie "weg te steek". Kap uie en braai dit met al wat 'n groente is wat ek in die yskas het. Pepers, wortels, seldery, aartappels, sampioene sjenese kool en wie weet wat nog. (Alles in blokkies gekap)
Sny die kabouterskoenskuiwe ook in blokkies en voeg dit daarby. Nou kan jy speserye byvoeg. Gooi genoeg water in en laat kook tot sag. Maak 'n pakkie osstertsop aan met 'n bietjie water en voeg dit by. Kook 'n bietjie en proe vir sout en peper en voeg by indien nodig.
Bedien dit met pap, ja lekker boerepap.
Hierdie tong was so murgsag en kleinding het nog 'n skeppie gevra.
Jy sukkel nie met 'n oumens nie.