Ek wil vanoggend (julle slaaptyd) 'n spesiale dankie aandra vir ons forum moedertjie. Persoonlik weet ek waardeur jy wroeg en vou jou toe met omgee en verstaan. Dit is werklik 'n voorreg om deel te kan wees van die forum waar ons saam lag en ook saam kan huil tussen lyne. Dan wil ek ook 'n spesiale drukkie gee vir ons geliefde matertjie Adele. Jou geestelike bydraes sorg dat die ouvrou nie haar geloof toetentaal en al verloor nie. Naas, Assie, Antjie Patat - dankie dat julle hier is. Ek weet ons praat meestal met onsself maar die ouvrou het julle nodig in haar lewe.
Soms voel dit ons klompie hou die forum kunsmatig aan die lewe maar daar is altyd iemand wat dwaal in die woordgange en as ons nie gasheer/gasvrou speel nie, gaan hulle ook nie meer kom inloer nie. Daarom vra ek mooi asseblief: Doet asb voort en woel met ons mooiste taal.
Ten slotte - ek gaan tot Maandag stillerig wees want ons gaan bietjie vir die kinders kuier op die Goue Kus voordat die Kouewit se slotte weer hang.
met élke letter, élke woord
ritmies geskommel
in herkenbare vorm
vanaf die digter's palet
geskep uit die niet
verbeeld ons vrese en drome,
kommer en vreugde
wat stom na jou staar
vanuit titels en strofes
in kwatryn of koeplet
en in teenstelling
verbreek ons ook reëls
in komplementêre kontras
vermaak/vertroos
ons ABC skeppings
in speelse wanorde
met of sonder reëls.