'n kollega se vrou het gevra vir 'n gedig, sy wil die fynheid en sterkte van 'n vrou, wat ook kind van ons Skepper is, vasgevang hé
hierdie is my poging:
vrou van vrede
sy swaai en draai
op haar tone gepunt
gee haar oor aan die ritme
in skone natuur gevind;
volkome vrou … in haar wese
’n sagtheid vasgeweef,
geneem uit die teerste groen
van die fyn varingblaar,
die glimlag van die maan
en die huppel van ’n njala-lam
sag sal sy jou wange omvou
met insig jou seer onthou,
in ’n tierwyfie se grasie
sal sy haar kroos beskerm
of ’n vader-invalide
op sy laaste tye dra en lei
en haar onverwags oor jou, vriendin,
en jou hartswaar labirinte ontferm
in elke nuwe oggendstond
waas haar oë langs sonknip verby
en skep sy handevol genade
uit die altaar van haar Hemelse Vader;
vind Christus haar op haar knieë
waar stotterend haar wense
vir haar kinders en haar naaste
opwaarts klim tot by Sion’s Troon
hiermee, skone vrou, gee ek
vir jou vanuit die valleie van Hebron,
die kleure van ’n pou se veer
die stilte van ’n volmaan
die lofvreugde van ’n viool se lied
die sieraad van ’n springbokpronk
die gelukkige lag van 'n baba
en die vrede van ’n spierwit duif …
alles uit Sy Liefde en Verlossing
toegedraai in die vlaktes van Jerigo
©adéle