My middagpad huistoe …
net 1.3km lank tot by my “goewerments”-huis. Eintlik kan ek die entjie loop maar omdat ek soms my voertuig in die dag nodig het, moet ek kantoor- en huistoe ry. En daardie kort entjie is vol vreugde. Die eerste entjie is teerpad vanaf die vakansie-oord se hek tot by die afdraaipad na ons huise toe.
By die hek groet ek die personeel en neem ’n glimlag of twee met my mee. Gewoonlik ry twee of drie van die mense saam met my. Ons kou dan oor gebeurtenisse van die dag se besoekers of die werk.
Langs die pad is geen besondere plantegroei nie, want hier op die Vrystaatse platteland is – gewoonlik - ’n droëlug-klimaat. Maar daar is altyd, elke week, ’n blommetjie of twee met spesiale kleure uit ons Vader se Hand. Klein-klein veldgrasse of wilde-struikies spog met blommetjies van slegs tiensent-grootte, of kleiner, in skakerings van geel of blou of rooi of oranje of wit. Hulle blom elke jaar! … al reën dit nie.
Vandag moet ek my pas verminder, my spoed aanpas by oom Skillie. Hy is weer laat oppad huistoe … loer gereeld by die veldkroeg in en vergeet soms om die sonwysertyd dop te hou. Vanaand slaap hy op die deurmatjie, dis verseker. Tannie Skillie vat nie nonsens nie en sal hom goed die leviete voorlees. (Ek wonder altyd hoe hulle mekaar gevind het.)
Wanneer ek afdraai, staan ’n rooiribbok onder die naaste boom. Ek stop dadelik in my rubberspore en gryp na my kamera op die vloer. Die hedendaagse digitale kiekie-apparate is nie bedoel vir mik-en-druk nie, maar Bokkie staan versteen tot ek hom gekliek het. Ons wag nog ’n paar minute en ek verkyk my aan sy ore en groot bokkie-oë. Dis so mooi. Dan spring hy om en laat spaander met lang hale, al langs die draad af tot annerkant die huise … reservaat se veld toe. Van agter die volgende struik kletter twee rooikeelfisante vervaard orent. Hulle swaar lyfies kan nie net opstyg nie, maar hulle trap lug in hul aanloop om oor die draad te kom. Oorkant die paadjie skarrel 'n tarentaal-familie ook dieper die grasveld in. Ek soek na die twee steenbokkies, maar vandag is ek te vroeg vir hulle.
Ek ry verder. Dis nog tweehonderd tree huistoe. As ek soms later in die skemeraande hier kom, huppel vlakhase oral rond. Maar nou is dit nog lig langs die lang Bloekom-skadu’s. Hier rond is die hele plek ge-oormerk vir verdere tonnel-ontwikkeling. Ek ry om die openinge van die grondeekhorings se ondergrondse vesting en stop weer. ’n Paar van hulle staan kordaat en loer na ons - sterte orent - elke spier gespanne en vlug soos blits weg wanneer ons begin beweeg.
Langs die watertenk, wat soms oorloop, staan ’n plaat vygies. Hulle blom ’n pers tapyt vol kleur wat toevou in die naderende nagskadu. Twee metaalblink hadidas wei daar rond, stap rustig van een wurmhappie na die volgende. ’n Groepie klein glansspreeus hou hulle vanuit die takke dop; hulle vere skitter in die strale van die agtermiddagson. Dan vlieg almal weg omdat die Kakelaars verbykom. Dit is nou ’n raserige spul voe’ls maar in vlug so mooi.
Aan die draadheinings hang muisvoëls soos akrobate rond. Hulle geniet bessies en sappige takkies in die tuine. Hulle en die koringvoëltjies, wat op die grasperk vergadering hou, is permanente inwoners in die straatpaadjie met sy vyf huise; tesame met die bos-en kransduiwe wat snags op die huisdakke kom slaap. Die lelspreeus kom kuier net vir twee maande in ’n jaar. Die janfrederikkies, Jannie en Sannie Frederik, kruip agter blaretakkies weg. En die laksmanne hou ’n wakende oog oor die gebied.
My huis is die eerste een in die tweede en laaste straatjie met net twee huise. Ek stop voor die hek. My kollega’s klim uit en een stoot die hek oop en vryf oor Boela se kop; hy wag al lankal om ons met groot hondevreugde te groet en ’n draai buite die hek te hardloop. Ek groet die ander en trek by my erf in terwyl die hond weereens sy kleim teen die boom, langs die hek, bevestig. Die buurman se hoenderkuikens, wat ewe onwettig langs die paadjie wei, storm deur die draad terug na hulle tuiste toe. ’n Entjie verderaan, naby die laaste buurman se hek, fladder twee hoep-hoepe ook na hulle boom toe.
Die mooiste is my rooivlekspreeus wat my soggens en saans inwag met hulle ‘eeeeu’-fluite. Nou wag hulle langs my agterdeur op die muurtjie vir ’n hondekoskorrel of twee. Ek roep my boerboelmaat en stoot die hek toe. Hierdie rustigheid is onverdiende genade wat ek elke dag aan my hart koester.
[sy het dit gelees maar seker die helfte uitgesny]