Internet het dit gebring…
’n Kuierplek waar ek, na jare in ’n effense, gedwonge kluistenaarshoekie, weer my teer voelers kon uitsteek. So voel-voel deur die eerste liggroen spruite wat soos ’n nuwe grasperk ontwaak het, kon ek my woorde wat, soms oulik, soms totaal onsamehangend, geskommel is en toe rympies en later gedigte geword het, met ander deel. Ander wat ook ’n liefde vir Afrikaans deel.
Ek het in ’n vriendekring ingeval waar iemand my eendag gevra het:
“Wat maak jy met jou gedigte?”
“Niks? Wat maak mens daarmee?”
“Jy gaan deel dit met ons ander op hierdie webwerf…”
En daar beland ek toe pens en pootjies in ’n woordpoel waar ek na hartelus woorde kon bou en skommel en verdraai en myself in ’n kromte in daarmee vermaak. Giggels het weer my vreugde vir lees en skryf aangewakker en ek het stringe en stringe letters getoets, gedraai, gepars, laat uitloop soos stiggies malvas en laat gis soos druiwemos. Party se sterte afgesny en ander sommer nek-omgedraai; sommige uit die alfabet verban net om hulle later weer toon-in-die-sand te gaan pluk waar hulle aan die naaste ster vasgehaak het. Soms het die letters woorde gevorm wat my om middernag uitgekoggel het of my vingers voor ontbyt laat ‘gout’ het.
By die forumstoep het die Moeder-woorde-owerste my die skuins trappe opgehelp en aan almal voorgestel. Gou-gou het ek my eie joppie gehad … beskuit en koffie aangedra, bootritte help reel, wolke geskep, rooiwyn geskink en karamel-toffie-vla-en-tjoklitkoek gefaks. Ons het oor die oseaan van eiland na eiland getoer en die ontdekking van Afrika en Australie’ gevolg. En op die Andes en deur die Grand Canyon het ons ons woordspore verewig.
O ja, en ons het vergifnis geleer … vergifnis na die mees geliefde maat op klagte van bedrog uitgevang is. Bedrog geskoei op ons meelewing, omgee, empatie en naasteliefde.
Maar ’n draak en sy slanggevolg het ons uitgedryf. Ons geloofswoorde en rustige Sondagoggende is met trompetgeskal vernietig en die splinters oor die sewe oseane verstrooi.
Tog het ons geglo ons sou weer eendag met kersligvlammetjies by daardie forumstoep se kaggelvuur ons mooiste verse met lint en maanstrale vasvleg.
Ons Woorddief het met ’n rottangmandjie onder haar arm elke woord wat uitgegaffel en omgespit is, bymekaar gehark en in ’n goue raam se satynblaaie gaan vasplak. Nuwe woorde uit niks geskape; ou nuutontdekte woorde en frases; idiome verstok in ouderdom wat ons geolie het; woorde wat vir honderd jaar in ’n hemelkatel se bulsak versmoor het en verse wat van die nuutste asteroiede afgebreek het. Ons het geglo dit is veilig in die forummuseum se koel glaskaste vir ons nageslag bewaar.
Maar die woordbom het ons harte geskud … die ongevoeligste vernietigende tsunamie-eiewaan het ons woordeboek opgeblaas. Geen webblad, woord of alfabetletter het behoue gebly nie. En as daar enigsins stukkies papirus sou oorbly, sal ons trane dit verpulp. Mag ons kinders eendag ’n vergifnisboompie op ’n graf plant en die grasrante met ‘sleeper’-houtwoorde afrond … die verlore woorde se graf, gegrawe in die toekoms. Ons harte is seer oor die wanbegrip van iemand wat nie ’n snars af weet van hoe om liefde vir Afrikaans en versgriffels te spel nie.
Maar ons doringboompie het klaar weer opgestaan. Al is daar ’n skaafmerk, ’n basleegte teen sy stam, bot nuwe blaartjies en loet nuwe takkies reeds in die skemer, soekend na sonstrale en reendruppels. En ons sal hierdie keer ons woordeboek jaloers bewaak teen die tirannie van enige kaper wat vernietiging van ons Taal voorstaan.