Author Topic: Die lekkerte van kleintydse onthou  (Read 4034 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Die lekkerte van kleintydse onthou
« on: January 23, 2013, 01:42:16 AM »
Outoppie het Sondag weer vir ons die heerlikste brood aanmekaar geslaan. En terwyl hy dit so sny, het my gedagtes esdraaie gegooi op kleintydse onthou ...

Waar is die dae toe jy nog eers die as moes uitkrap en dan die stoof moes stook uit die krat langsaan met mieliestronke voor jy kon begin afmeet en knie aan 'n gebak?

Ek sien nog my ouma se handgeskrewe resepte in 'n ou 'bloemlesing' waar vingermerke op die vergeelde blaaie 'n aanduiding was van die gewildste resepte. Die koekiedrukkers was koppies en glasies, waarvan die rande ritmies in meel gedoop was so al om die derde, vierde drukslag. Die meelstreep oor haar voorkop het my altyd laat giggel en die patroontjies tussen die gedrukte doekies was ons 'wat sien jy?' vermaak voordat sy dit in 'n bolletjie bymekaar gevat het om weer uit te rol.

My eie stukkie deeg was later half blouerig gerek en trek. Ek onthou so goed die gevoel wanneer die deeg drooggeword het aan my vingers, dan kon ek dit so frommelende afvryf en het ek my verbeel ek is klaar groot en self 'n vrou wat met my gestyfde kappie die hoenders se spikkeleiers in die erf gaan soek sodat ek vir die 'mense' kan bak. En agterna moet ek 'n papiertjie agter uit die boek skeur en die resep neerskryf: 'n knypie van die en 'n handvol van daai - net 'n knertsie van dit of straks so doppie vol.

Die ketel het altyd so eenkant toe geskuif gestaan op die stoof. As iemand van buite ingekom het en lus was vir 'n boeretrosie het hulle een plaat verwyder en dit oor die oop gaatjie geskuif. Dan het ek my verluister hoe dit krakerig prosedeer voor dit hees begin sing het - amper soos wanneer ouma 'prys den Heer met blye galme' sing, terwyl sy die primus stofie soggens gepomp het.

Ouma se broodpanne was deurgesnyde olieblikke. Daar is tot vandag geen moderne pan wat 'n brood kan laat lyk en proe, soos daardie blikpanne op die delwerye. Die korsies in perfekte goud gebak. Ek proe nog die dik snye met vars room, of fyngemaalde kaiings en oooo die sonne - varkvet en stroopstrepie wat ouma na die tyd van jou wange afvee met haar voorskoot wat na alles onder son en maan geruik het!

Die geborduurde voorskoot het baie doele gedien: sakdoek, vatlap, vadoek en selfs trooslap wanneer kuiergaste laat was en ouma die pad bekommerd dopgehou het, het sy die punte altyd so bymekaar gevat en vasgehou, asof sy onheiliglik oop oge aan't bidde was.

Oupa altoos deur gespot dat die Fordjies beter spoor kan hou as 'n Chevy om daai helske draai by die laaste Bloekomboom.

Nog een van die lekkerste onthou uit my delwerskinderdae was die gekleurde klippies en kleine glasbotteltjies met die mooiste vorms. Die riffels het my lippe gekielie as ek oor die oopbekkies geblaas het. Dan het ek drome gedroom oor ver lande; baie mense wat vir my gaan kom kuier en ons langs die tafel sit met goue snye brood en genoeg olie in die lampe om heelnag te kan gesels na boekevat en drie kratte vol stronke sodat die koffieketel aanmekaar prys den Heer kan sing...

« Last Edit: January 25, 2013, 09:57:14 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10693
  • Gender: Female
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #1 on: January 23, 2013, 08:47:19 AM »
Ek sou hierdie baie graag in ons boek wil hê.  Dit is so raakgevat uit die verlede.  Baie dankie dat ek daarin kon deel. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #2 on: January 23, 2013, 09:44:25 AM »
Hy is joune as jy hom wil gebruik matertjie, miskien net soek vir 'n mooi regte outydse prentjie - ek het sterk vermoede Fransi sal ietsie perfeks kan skep  :love7: :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10693
  • Gender: Female
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #3 on: January 23, 2013, 12:51:38 PM »
Dankie Raaitjie.  Fransi kuier hierdie week by haar sus, ons sal haar vra sodra sy terug is. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #4 on: January 25, 2013, 10:05:59 AM »
As iemand jou sou vra watter dis van jou ouma sou jy eerste onthou, wat sou dit wees? Vir my is dit haar haaspastei. Dit het soos fyngebraaide hoender geproe en daarby was groente uit die tuin: soetpatats en onthaarde groenbone, sysagte kool en spierwitte korrelrys, uitgesoek met die hand  :love7:

Offline Aspoestertjie

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 102
  • Gender: Female
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #5 on: January 25, 2013, 10:11:36 AM »
My Ouma se souskluitjies. Daar is niemand wat my ouma se souskliutjies kan namaak nie. Ongelukkig is sy graf toe met haar resep maar die soet klou nou nog aan my verhemelte as ek net daaraan dink.



 :mumum:
Oupa sê: Wyshyd is die truspieël van die ouderdom.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #6 on: January 25, 2013, 10:18:23 AM »
Assie ek ruik daardie souskloutjies uit my kinderdae nou! En ouma het ook so degie bo op haar vleis gemaak, dink jy ek kan nou onthou wat hulle dit genoem het?  :icon_bigsmurf:

Offline Aspoestertjie

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 102
  • Gender: Female
Re: Die lekkerte van kleintydse onthou
« Reply #7 on: January 25, 2013, 12:45:43 PM »
Ons noem dit sommer deegdoekie of oorgooidoekie. Dit het ook altyd so kluitjie gekom. Ek is versot op kluitjierige deeg.
ai hoe sweet my tong nou!!!



 :mumum:
Oupa sê: Wyshyd is die truspieël van die ouderdom.