Die geliefde nooi word dan ook soms beskryf as 'n soort natuursimboliek: ‘blaartjie’, 'n ‘blommetjie’, 'n ‘appelliefie’ of 'n ‘doringblaar’, en sy gewoonhk ‘rietskraal’! Sy, 'n ‘hartlief’ en 'n ‘hartedief’:
'N LIEFDESLIEDJIE
Woorde: C.F. VISSER, na "Du, du liegst mir am Herzen"
Musiek: Volkswysie 1820; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS
Jy, jy is my klein hartedief.
Jou, jou het ek so lief.
Jy, jy laat my so treurig voel,
weet tog hoe goed ek bedoel;
Ja, ja, ja, ja,
weet tog hoe goed ek bedoel.
Jy, jy kan soms so tergsiek wees,
ja, so wankel van sin;
jy, jy kan soms vererg ook wees,
weet tog dat ek jou bemin.
Ja, ja, ja, ja,
weet tog dat ek jou bemin.
En, en is ek daar ver alleen,
dan, dan dink ek aan jou.
Hoe, hoe trek jy my dan hierheen
tot ek dit langer nie hou.
Ja, ja, ja, ja,
tot ek dit langer nie hou.
*******
So word die ontmoetings by 'n moerbeiboom of geeldoringboom dan ook verwoord:
MY NOOI'NTJIELIEF IN DIE MOERBEIBOOM
Woorde: THEO W. JANDRELL
Musiek: A. CONRADI; verwerk: PIERRE MALAN
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied,
van liefdevuur en van lentedroom, van vreugde en verdriet?
Kom af, my nooi, ek verlang na jou, soos blomme smag na die môredou.
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied?
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied?
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly?
O waarom dan tog so skaam en skroom, of terg jy maar vir my?
Daar's lag en lewe in sonneskyn; kom af, my nooi, eer die daglig kwyn.
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly?
My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly?
My nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor,
van liefdevuur en van lentedroom, dit het haar hart bekoor.
Ek sien daarbo, waar die blare roer, twee ogies laggend deur lower loer.
My nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor;
my nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor.
*************************************
SY'S 'N PERSKEBLOM
Woorde: M.L. DE VILLIERS
Musiek: M.L. DE VILLIERS
Boetie, sy's 'n perskeblom,
rosig fyn van kleur;
moenie wag nie, kêrel kom,
pluk haar in haar fleur.
Maak jou buiging, vat haar hand,
gly nou heen en weer;
nog 'n buiging, nog 'n groet,
speel dan nog 'n keer.
Maak jou buiging, vat haar hand,
gly nou heen en weer;
nog 'n buiging, nog 'n groet,
pluk haar in haar fleur.
******************************
ROSIE VAN DIE VELDE
Woorde: H.F.G. KUSCHKE, na Goethe
Musiek: HEINRICH WERNER
Knapie sien 'n rosie staan,
Rosie van die velde.
Haastig het hy toe gegaan,
staar dit met verrukking aan;
sien so 'n skoonheid selde.
Rosie, rosie, rosigrooi,
Rosie van die velde.
Knapie sê: Ek pluk jou nou,
Rosie van die velde.
Rosie sê: Dan steek ek jou
dat jy altyd sal onthou
Rosie steek met spelde.
Rosie, rosie, rosigrooi,
Rosie van die velde.
Maar die ruwe knapie breek
Rosie van die velde.
Rosie hou haar woord en wreek
Knapie's moedswil met 'n steek--
tog moet sy't ontgelde.
Rosie, rosie, rosigrooi,
Rosie van die velde.
*************************
MY BOERENOOI
Woorde: THEO W. JANDRELL, na "Über Berg und Tal"
Musiek: Komponis onbekend
Ver oor berg en dal ruis die waterval,
joe-paai-die, joe-paai-die-aai-da!
soele windjies jakker bly oor tuin en akker,
joe-paai-die, jou-paai-die-aai-da!
Wyd oor veld en vlei, waar die skapies wei,
joe-paai-die, joe-pa, joe-pa, joe-pa, joe-paai-da!
wemel lentekleure, sweef die lentegeure,
joe-paai-die, joe-pa, joe-pa, joe-paai-da!
Onder in die dal, langs die waterval,
staan 'n strooidakhuis, waar die waters ruis,
langs die waterval, onder in die dal,
so lief, so mooi, daar woon my boerenooi.
Ver oor berg en dal ruis die waterval,
joe-paai-die, joe-paai-die-aai-da!
eendjies op die plassies, blomme in die grassies,
joe-paai-die, joe-paai-die-aai-da!
Lelie, violet, roos en minjonet,
joe-paai-die, joe-pa, joe-pa, joe-pa, joe-paai-da!
Duifies in die bome, vissies in die strome,
joe-paai-die, joe-pa, joe-pa, joe-paai-da!
Onder in die dal, langs die waterval,
woon die nooi van my, lief en mooi verby,
langs die waterval, onder in die dal,
o, daar woon sy, die boerenooi van my!
***********************************
So verskyn daar onder ons minneliedjies
'n geselligheidslied vir die Nuwe Jaar met al sy vrolikhede:
‘Mooie meisies,
fraaie bloeme:
Al die meisies wil ek soene.
Sit die nonnas op 'n ry,
Kyk hoe mooi is sy vir my!
Kan ek al die nonnas krye,
Ek sal hul aan 'n snoertjie rye,.....
Snoertjie rye, paar aan paar:
Skink die jonkmans die Nuwe Jaar!’
En vanuit 'n ander minneliedjie:
‘Daar kom die trippelaar,
Die trippelaar van Frits de Jager,
Hy kom vir die Nuwe Jaar:
Dit sien jy aan sy haar!’