Robelle, my ware vriendin wat ek op Woes leer ken het, die mens met wie ek ‘n egte, hegte vriendskap gedeel het, het vroeg in Desember twee jaar gelede gesterf aan ‘n hartaanval. Dit was ‘n week voordat ons saam met ander Woes-skrywers naby Paternoster aan die Weskus sou kamp. Alles was gereël. Die dag moes nog net aanbreek dat sy my, soos die vorige keer, op Woodbridge Island sou optel en ons dan saam Paternoster toe sou ry.
Die kampering het voortgegaan en op die eerste dag toe ek by die kamp opdaag, het ek op die rotse teenaan die water gaan lê en met Robs gepraat, ‘n brief teen die hemel geskryf vir haar en haar vertel hoe ek haar mis. Ek het haar vertel hoe baie sy vir my beteken het as vriendin. Ek het vir haar dankie gesê dat sy so vêr sou ry net om saam met my en ons ander vriende vir ‘n hele naweek te kon wees. Ek sal ‘n ekstra paar mossels eet vir jou, het ek vir haar gesê.
Dit was stil met net die meeue wat skree en die water wat klots teen die rotse. Agter my het die veld uitgestrek en die sout en bossiegeure het gemeng. Dit was asof Robs baie naby my was. Asof sy self langs my gelê en na die verbygaande wit vlieswolkies gekyk het.
Ek was so opgewonde om saam met haar die Weskus te kon verken waar sy nog nooit vantevore was nie. Ons het planne gemaak, ingepak, oor en weer e-posse gestuur en vir Louis opkommandeer om ons plekke te gaan wys: Paternoster, Jacobsbaai, Langebaan…. Met ons vorige kuier op dieselfde plekkie, het ons teen die water in die klipbaaitjie op klippe gesit en ons voete in die koel seewater gebaai. So het ons hartsdinge gepraat terwyl die ander kampers by die kroeg of kampvuur, waar Louis kreef en mossels gebraai het, hulself besig gehou het. Dit was ‘n byenes van bedrywighede, maar ek en Robs het net tyd met mekaar gedeel daar op die klippe.
Baie later het ek het my trane afgevee, vir haar totsiens gesê en ‘n paar van die groter skulpe opgetel en in my tent gaan sit. Dit sou saam met my huistoe gaan. Met my aankoms by die huis het ek dit teen my yskas geplak waar ek dit elke dag kon sien. Nog skulpe het ek aan ‘n toutjie aan die knop teen ‘n kas gehang. Wanneer ek die kas oop- of toemaak, praat die skulpe met my oor die tyd saam met Robs op die klippe. Die vier groot skulpe teen my yskas sit vas soos my vriendskap met my vriendin Robelle in my hart sit.
Ek mis haar vanoggend.
++++