Ek het die voorreg gehad om ‘ouma’ te kon speel. Vol laggies en gesels het sy by my afgeklim. Ons het mekaar in die afgelope drie weke al leer ken en sy het reeds diep in my hart ingekruip. Sy is haar oupa se hartspunt en ek koester die kans om liewer te raak vir ’n kleinkind van mý hart se punt.
Leja is nege maande oud en ons het haar ’n maand gelede vir die eerste keer kon vashou. Hulle het van Nederland af kom kuier. Sy het al so effens gekruip toe hulle hier aangekom het, maar kon selfs nog nie alleen stilsit sonder om om te val nie. Maar toe stap die dae aan. Oupa het al gesê sy weet nie wat om met al die vriendelikheid te maak waarmee sy so oorlaai word nie.
Ek het haar vir ’n rukkie in haar stootkarretjie gelos … voor die oop skuifdeur teenaan die toe traliehek. Aan die buitekant het Boela gaan sit en hierdie nuwe mensie aanskou, eers skewe kop, toe snorkend geproes, sy poot opgelig en teen die hek laat rus, maar toe Leja net kraai-lag en nie uitklim nie, het hy voor die hek gaan lê en droomland toe verhuis. Sy verdraai omtrent haar lyf om hulle raak te sien.
Later het sy sommer so skewekoppie aan die slaap geraak. Ek het haar op kussings op die vloer neergelê en self op die bank gaan indut. Haar oupa en mamma het haar pa en ander ouma Johannesburgse lughawe toe geneem en sou eers laataand terugkeer. Dit was dus nodig om ’n bietjie krag op te bou deur siëstatyd en die koeler aand in te wag.
Ons het geëet, ge-doekruil, langs die dam gaan kuier en oor die water gestaar waar die damvoëls visgevang het, koeldrank geniet en gesels… o ja, gesels in tale wat net ’n ouma moet kan verstaan, en natuurlik Boela en Lulu en Tinka-kat, want hulle het elke keer kom luister wanneer sy iets vertel.
Oor twee weke vertrek Leja en haar mamma ook huistoe maar haar laggie sal draal en skype sal ons nader aan mekaar hou. Hoe heerlik is vandag se tegnologie!