Ek stof deur die kiekies van vroeër se onthou,
adem die wegbêre reuke in.
Blaai deur die familie
vanaf gisters se jare tot nou.
Op die rakke van toeka se tyd
ontdek ek die tydlose boks.
Slotloos kraak die skatkis oop en
ek stof deur die kiekies van vroeër se onthou.
Die koerante se snyseldisse
vertel hulle eie verhale
en soos ek deur die kiekietye dwaal
adem ek die wegbêre reuke in.
Voorgesate reeds vergane
glimlag magenta-trots deur tyd.
Tot gister se eietydse kapperjolle
blaai ek deur die familie.
Ja, onthou se trane biggel
oor skatte onthou uit vêr verlede
soos ek blaai deur vergete kreukelkamers
vanaf gisters se jare tot nou.
Vanaf gisters se jare tot nou
blaai ek deur die famielie,
adem ek die wegbêre reuke in
stof ek deur die kiekies van vroeër se onthou.