My Jona-land
Ons land, ons Ninevé
deur God aan ons volk gegee;
die skeepsvrag reeds oorboord gegooi
toe ons lewe en vryheid prys moes gee.
Omdat God die vreemde volk lief wou hê
moes Jona sy Boodskap aan húl gaan gee.
Het Hy my ook gestuur na hierdie Suidpuntland,
met my kosbaar’lewe toegevou in sy Hand?
Wie sou ek navolg, sou ek dwarsweg vlug,
en weg van sy Woord my stormskip laat sink?
In hierdie land met sy mense-verskeidenheid
wou ek, soos Jona, vir God sy Liefde voorskryf,
het ek later, vanuit die diepe aardse eindpilare,
weer na bo teruggedraai met trompetfanfare;
sy Waarskuwing luidkeels straat-verkondig,
arrogant-gemaklik my sit gekry in die Afrika-son
om onder die wonderplant van mag en mammonlig,
my eie godskoninkryk in sy Naam op te rig.
As ek nou in hunkering na sy Woord wil luister
en nie langer oorgee aan die wrede duister,
sal Hy vergewe en my hartsberou gewaar,
sy Uitdelgplan, in veertig gety-jare laat vaar?