Dink ek vandag weer aan Oupatjie wat 'n paar weke gelede "Huistoe" is. (96 jaar)
Oupa was net so oor die 91 toe sy dogter kom kuier uit NZ. Met die beste van bedoelings gaan laai ons vir hom en Oumatjie op om hulle saam te neem lughawe toe. Altwee is nog sterk en hulle sien geweldig uit daarna om Meisiekind te gaan verras.
Oupa stap om die bakkie om in te klim, maar hy raak weg. Ek stap agter om die bakkie en hier lê Oupa op sy maag. Sy voet het vasgehaak en hy het neergeslaan. Ons help hom op en hy verseker ons dat behalwe vir die neus wat velaf is, is daar niks fout nie.
Nou sit ons af lughawe toe, dit is 'n uur se ry. Daar aangekom kla Oupa dat hy baie seer het in sy been. Ons gaan haal 'n rolstoel en stoot Oupa tot by die ontvangslokaal en daar ontmoet ons vir Meisiekind en sy is in die wolke oor die groot verrassing.
Intussen kapittel ek myself dat ek mos altyd wil slim wees. Ek voel so sleg ek moet op my tanne byt om nie te huil nie. Nou moet ons vir Oupa hospitaal toe neem om X-strale te gaan neem. Hy wil niks weet nie, maar ek hou vol.
Oupa se been is gebreek. Hy kry gips aan en ons koop vir hom krukke. Ten spyte van die hogere ouderdom groei Oupa se been mooi aan, maar ek dink nog die tyd wat ek op my kniege deurgebring het, het baie daarmee te doen gehad.
Drie jaar later kom Meisiekind weer kuier. Nee nee, nie weer lughawe toe nie. Dit is te gevaarlik.
Ons vat liewer vir Ouma, Oupa en Meisiekind uit vir 'n heerlike ontbyt. Daar staan Ouma op na die ete en slaan net daar neer. Gebreekte heup!
Ja, die pad na die hel is uitgeleg met goeie bedoelings.