"met my neus geploeg..."
Bekvol-onderwerp hierdie. Wonder ek of karma nog regtig werk of nie? Goeie mense probeer eerlik en hard maar beland keer op keer op die kniege. Ander slaag met onderskeiding deur te lieg en bedrieg terwyl hulle jou in die oge kyk.
Ek het al so gal afgegaan op die gevreetboek oor ons doringpad na die aankope van ons nuwe wieletjieshuis op die skou, so agt of wat volmane gelede.
Heel eerste steel die ruimte van die nuwe wa ons kampharte. Tweedens is die aparte stort en badkamer vir my die oplossing van knyp-knyp in 'n ry my beurt af wag. Derdens raak Outop summier verlief op die eksterne uitskuifbare kombuis, kompleet met yskas vir koue biertjies.
Laaste maar nie die minste nie, sou my pa baie trots op my taktiek gewees het om ons prys te kry vir die inruil van die ou wieletjieshuis. Die verkoopsman redekawel in sirkels. Ek sit my sit. Hulle offer eers helfte van wat ons soek - elke keer vat ek my pypies vas en begin opstaan, dan skuif hy hulle offer met 'n duisend op.
Iewers tussen die derde, vierde opstaanslag beklink ons die saak en begin uitwei aan die veranderinge wat ons graag gedoen wil he. Onder andere vra Outop of daar skerms is om oor die uittrekbeddens te gaan vir die gereelde Ausie storms. Die slinkse mannetjie beaam en maak sy prys - 600 en 'n ietsie ekstra dollars. Hulle sal ook sorg dat daar ekstra proppe is vir die geleende asems en groter gedoente wat battery krag omskakel na iets anders. Ek is nie regtig tegnies aangele nie. Skuus.
Outop maak seker daar is 'n ekstra kattebak vir al die kamptoerusting. Verkoopsman beaam en ons teken die kontrak. Die fabriek sal bou na ons smaak. En die inruilwaarde is in kontrak aangeteken. Hulle gee ons 'n voorlopige afleweringsdatum so tussen middel November en kort voor kersfees.
Oppad huistoe swig ons voor die versoeking en gaan koop alles nuut om ons stempel op die nuwe wa met sy sinlike donker grys interior, af te druk. Ons loop op die wolke tussen die rakke saam ons jongste en sy vroutjie. Voel ons sit weer huis-op en skoondoggie laai ywerig in. Sy ken my smaak en ek het alreeds uitgewei oor wat ek graag wil doen. Kort-kort hoor ek: 'Oh Mum! Look at this. This is a MUST to have!'
Gedaan geloop en die Jeep gelaai van dak tot vloer, vat ons die pad huistoe en begin die volmane aftel.
Vier maande gelede lui die foon en 'n stem aan die anderkant vertel my ons karavaan is klaar gebou en oppad na Brisbane. Volgens kontrak moet ons nou betaal. En ons gee die bank opgewonde opdrag om te betaal. Wag geduldig dat hulle ons laat weet die wa is nou gereed vir optel.
Lui die foon 'n paar dae later. Die stem aan die anderkant lig Outop in dat ons karavaan nou by die handelaars is MAAR daar is geen stort of toilet nie! Darem ekstra kaste ingebou. Hahahahaha! My Flip, Gert! Outop vertel hom mooi dat ons spesifiek gevra het vir karavaan met aparte stort en toilet en betaal het vir dit met al die ekstras.
Jammerlik maak die verkoopsman verskoning en se geen rede tot kommer. Hulle sal fabriek laat weet en ons nuwe wieletjieshuis sal oor twee weke gereed wees.
Intussen kruip week na week weer verby. Ons word suurder en suurder. Stuur epos na epos want ons betaal al vir hoe lank die paaiemente op die karavaan wat ons nie het nie. Geen antwoord. Outop bel gefrustreerd en vra om met die verkoopsman wat ons gehelp het by die skou te praat. Jammer, hy werk nie meer daar nie. Iemand anders beduie toe dat ons wa reeds op die vragmotor is en sekerlik binne die volgende week gereed sal wees.
Week na week kruip verby. Skryf, skryf... geen antwoord. Ek begin hond se gedagtes kry. Wragtag is iets nie pluis nie. Sloer en vermy skrou lieg en bedrieg.
'n Maand later bel Outop weer. Iemand anders antwoord en ons vra om met vorige verkoopsman te praat. Hahahahah. Jammer hy werk nie meer daar nie maar iemand anders sal aan ons verduidelik. En hy verduidelik toe - ons wa is amper aan die einde van die bousessie. Outop val amper agteroor.
WAT?? Hy is nog nie eers klaar gebou nie? Nope. Maar hy is ampertjies klaar
Vra ons nou hoe kan hulle verwag dat ons aanhou betaal aan 'n karavaan wat ons nog nie het nie? Die kontrak lees duidelik dat ons betaal sodra die karavaan van die fabrieksvloer 'af' is. Wat van die onderstelnommer van die verkeerde karavaan wat op kontrak is? Kan dit net oorgedra word op die nuutgeboude ene? Hulle verseker ons dit kan gedoen word. Maar ons is verplig om te betaal want dit is nie hulle fout nie. Fabrieksfout. So volg ons die bollie-wet van Transvaal, en betaal met swaar harte hier in die land van Bloekoms en kangeroes.
Die ampertjies klaar geboude wieletjieshuis, is tot op hede NOU nog nie klaar nie!
Intussen het ons nog 'n oproep gekry. Daar is so pas 'n karavaan soos die ene wat ons laat bou het, van die fabriek afgelewer en die persoon het gekanselleer weens siekte (?) ek se reguit die man het sy moer gestrip en besluit genoeg is genoeg. Eienaar nooi ons om te kom kyk, as ons belangstel en tevrede is, kan ons die ene neem.
Vyf uur die volgende oggend hak ons die ou wieletjieshuis en vat die pad Brisbane toe.
Die kleur verskil (beige-nagmerrie vir ouma en oupa met kaboutertjies wat gereeld saam kamp) maar ons besluit ons kan saamleef met dit. Die atmosfeer baie styf tussen ons en personeel. Hierdie keer onderhandel ons met die eienaar self. Hy spin 'n sopstorie van sy broer wat senu-ineenstorting gehad het soos wat die verkoopsmanne drooggemaak het en die hele spul is 'gefire'. En hy het in sy hele besigheidsbestaan nog nooit 'n situasie soos ons sin gehad nie. Hy kwyl behoorlik met sy simpatiesoekstorie.
Vra hy jou waarlik kan ons die vorige kontrak opskeur en nuut oor begin? Ek ruik daai rot of hy onder my neus gaan staan en vrek het! Vra ek hom wat van die onderhandelde inruilprys vir ons ou karavaan? Lyk of hy stuiptrekkings gaan kry. Nee, ons begin oor mos beduie hy. Hy kyk na ons wa; maak 'n prys en ons onderhandel verder.
Ek begin opstaan, Outop grawe na sy kontrak en die eienaar se rug trek styf. Hy sal gaan kyk na ons karavaan en terugkom na ons.
Hy skud kop en se nee. Ons karavaan is nie werd wat hulle ons geoffer het op skou. OUtop se ons het kontrak geteken ... en wys na papier voor hom. Baie styf besef die eienaar die boere oom en tannie gaan nie skietgee nie en hy stem ooreen vir dieselfde inruilwaarde as wat op kontrak is.
Nou vind ons uit oor die kattebak en seilbeskermers vir slaapgedeeltes. Die frons op die eienaar se gesig kry 'n bekende stankie. Die karavaan HET nie 'n kattebak nie en daar IS nie sulke seile beskikbaar vir die slaapgedeeltes nie want daar is 'n harde dak bo oor beddens. Hahahahahahaha. Outop se ons het reeds oor die $600 dollar betaal vir dit!
Daardie sluwe verkoopsman het wragtag sonder om dit te stipuleer, die bedrag by die verkoopsom ingesluit. Ons het daardie geld verloor
Outop grawe orals tussen sy papiere maar nerens word verwys na dit apart nie.
Nou ja, na al die poep en drama gaan ons DV more die nuwe wa haal. Of hulle die veranderinge wat ons voor betaal het, aangebring het sal ons dan sien.
Wat moet gebeur, sal gebeur dan nie?