Oupa sê: “‘n Man wat alleen slaap jaag volwasse spoke op wat heelnag deur sy se grysmassa hoereer.”
My ma se slim broer, hy kort nog net twee grade dan is hy ‘n gradeboog, se vrou het hom op ‘n vroeë ouderdom vir ‘n houtpak en ‘n marmerkopstuk verruil. Twee kinders moes hy maar self deur al die teite (puberteit en universiteit) help.
Hy het met die teite saam eensaam geword.
Ek verstaan nie altyd woorde nie. Eensaam? Saam met wie is die alleen mens as hy eensaam is. Dis nes die Tranvalers wat stywepap eet. Hoe kan pap styf wees? As pap styf is is pap mos nie meer pap nie.
Elk geval…
In daardie eensame tyd het hy snaaks geraak en… nou ja… Storie vir ‘n ander dag.
Hy het darem weer die lig gesien nadat hy ‘n vriendin ontmoet het.
Kuier ons nou die dag by my ma se swaer. Sy vrou se as waai ook al daar by Leentjiesklip deur die duine.
Swaer is ook al ver getel in die jare en bly nou al so paar jaar alleen.
Hogere ouderdom keer hom nie.
Hy onderhou nog self sy tuin en huis. Kook self kos, vang vis, praat met homself en ry in ander karre vas en al daai ander lekker dinge wat gewone mense maar so oor die jare aanleer.
Maar so luister ek maar na hom oor ‘n koppie rooitee en suurlemoensap. Suurlemoensap het hy self gekweek en die rooitee self gebrou.
Ek drink maar traag. Moet linksom drink want sy suster wat laasmaand by hom gekuier het is regs en haar lipstiffie se oorblyfsels versier nog die koppie se rand.
Hy vertel vir ons… En hy praat met ons… En ons luister net…
Soms hoor ek hoe hoereer die laaste twee jaar se spoke in sy breinboks.
Op pad terug dink ek aan alleen wees.
By die huis.
Alleen in my bed.
Dagspoke werk nagdiens en hoereer so dat ek nie ‘n oog toemaak nie.
Voor die son opkom oor die kloof se berge is ek al moeg van die spookgelag in die gange van my wakkerlê.
Ek staan maar op. Stook die Aka sodat die spoke kan koffiedrink en gaan slaap voordat ek my dagtake begin.
Oupa kom uit die kamer, gee my een kyk en sê: “Smaak my elkeen van ons ketting ons eie gedagtespoke aan ons katels vas.”