Voor in ‘n boek staan daar altyd so ‘n stukkie wat alle verwysing na regte mense as per ongeluk uitskel.
Ek moet ook nou seker so skryf anders is daar dalk mense wat die onderwyser gaan erken. Nou ja, hier gaan ons.
Alle verwysings na, of stories oor, strokieskarakters is aspris, alhoewel die skrywer nie doelbewus in hulle karakters probeer klim nie. Alle aantuigings is waar behalwe waar die ware feite nie by die storie inpas nie. In sulke gevalle is die feite doelbewus aangepas om die storie meer geloofwaardig te maak.
Sonder om my ouderdom te probeer weggee moet ek nou eers vertel dat daar in my tyd ‘n strokieskarakter bestaan het wat gedurig onder die pantoffelregering deurgeloop het. Nou verwys ek nie na Andy Capp nie maar na Jiggs.
So beland daar in ons standerd 9 jaar ‘n omie wat in die Engels kom aflos. Hy het op ‘n potloodstreep na nes Jiggs van die strokie gelyk, kompleet met die bossie hare bo elke oor, en kort voor lank was hy dan ook bekend as “Ou Jiggs.”
Ou Jiggs was nie opgewasse teen ons klas se unieke sjarme nie.
Die eerste dag wat ons by hom klas het vertel hy vir ons die grap van die seuntjie wat so vreeslik vloek. Dominee hoor die seun praat so vreeslik in tale en berispe hom onmiddelik oor sy aksent. Die seun haak af en antwoord die kerkleier. (En hier moes jy nou eintlik vir Jiggs in lewende lywe sien.. Sy kop vorentoe soos ‘n tiener wat sy eerste soen steel. Sy mond op ‘n plooi soos Popeye met sy pyp. Sy linkeroog toe. Sy linkerhand op ‘n onsigbare meul en sy regterhand wat die meul se slinger hier by sy oor verby draai.) “Daai’s nog boggerol. Oom moes gister gehoor het toe my ouma haar bors in die vleismeul vasgedraai het.”
Van daai dag af het Ou Jiggs daardie grap aan die begin van elke periode vertel nadat Wilhelm hom daarvan oortuig het dat ons nog nie die grap gehoor het nie en dat hy dit al vir die ander klasse vertel het. En elke slag met die nodige handaksies.
Ek onthou daai dag wat ons nie regtig lus was vir Willem Wikkelspies se “Julies Sieser” nie. Staan ons mos ewe in die ry langs die muur af op aandag. Wilhelm voor.
Jiggs kom uit die klas, groet ons en beduie dat ons maar kan instap.
Wilhelm steek vas buite die deur. Buk, en voel met sy hand in die deuropening asof daar ‘n tou in die deur gespan is. Klim dan versigtig oor die “tou” en stap na sy sitplek toe. Ons ander vang onmiddelik wat aangaan en so voel en klim almal oor die onsigbare “tou” in die deur.
Ou Jiggs het die storie staan en gade slaan. Toe almal in is steek hy ook voor die deuropening vas. Hy voel en ondersoek daai opening maar kry niks. Hy skud op die ou end sy kop. En klim toe ook maar veiligheidhalwe oor die “tou.”
“Wanneer gaan Meneer vir ons daai grap vertel?”
“Watter grap?”
Wilhelm steek sy kop vorentoe, maak sy linkeroog toe, trek sy mond op ‘n plooi en met sy linkerhand op die onsigbare meul draai sy regterhand die slinger by sy oor verby. “Die grap van die vleismeul, Meneer”
“Maar het ek dan nie al vir julle vertel nie?”
“Nee. Meneer het vir die A2 klas vertel.”
En daar draai die ouma weer haar bors in die vleismeul vas en ons lag te lekker omdat
Jiggs weer daarvoor geval het.
Leesboeke uit en gou, gou is Jiggs in sy eie wereld van Sieser en sy hogere Engels.
“Caeser! Why doest thou lie so low!” Sien Wilhelm deur die venster verdwyn.
Voor Ceaser kan antwoord: “Someone puteth a banana peel under my shoe-eth” Verskyn Wilhelm in die deur met ‘n vuilgoeddrom. Saggies en versigtig word die vuilgoeddrom langs Jiggs se stoel neergesit en Wilhelm is weer uit by die deur en terug deur die venster.
Die klok lui. Jiggs sit sy boek neer, staan op en val oor die verdwaalde vullisdrom.
Ons verdaag en klim weer oor dieselfde “tou” in die deur.
Toe ek wegstap kyk ek om en kry vir Jiggs jammer waar hy sukkel om die verdwaalde vullisdrom oor die onsigbare tou te tel.