Jona
Een oggend vroeg het Jona die rooidag gaan groet
en daar het God hom langs die pad ontmoet.
Na sy vyandstad, Nineve, moes hy dadelik gaan
om te vertel dat hulle hul sonde moet laat staan.
‘n Nuwe lewe wou Hy aan die Nineviete gee
maar Jona het weggevlug oor die Middellandse See.
Hy het sy hand opgelig en ’n woeste wind het begin loei-
stormgolwe het die skippie doelloos rondgegooi.
Angsbevange en biddend het matrose die skip probeer red
terwyl Jona rustig en sielsalig, vas aan die slaap was op sy bed.
Later het die kaptein hom daar onder opgespoor
en so het almal toe van sy Almagtige God gehoor.
Oorboord is hy; al biddend afgesak in die water
waar ’n groot vis hom gered het, ja, drie dae later!
Uiteindelik het hy bekering in die stad gaan preek
maar gehoop dat sy SkepperGod hom nog op hulle gaan wreek.
Op 'n heuwel het hy hom toe gemaklik gaan maak.
God het ook ’n rankplant oor hom laat waak
maar die volgende oggend het Hy ’n wurm gestuur-
die plant het verdroog en Jona moes weer ongerief verduur.
Hy het gekla en gemor en homself doodgewens
maar die God van die Hebreers het hom gewys dat die mens
tog baie meer werd is as ’n komkommerplant;
so ook die baie diere op Nineve se land.