Na aanleiding van Adele se kommentaar op my resep vir Suurlemoen Kaaskoek oor ek nie bak en brou nie omdat ek nog nie na sewe jaar van herstel, weer begin kook en bak het nie.
Dit neem my vyf volle jare om te herstel na 'n traumatiese huwelik en egskeiding waarin die skoonma baie betrokke was en amok gesaai het.
Na hierdie vyf jaar moet ek weer die nes verlaat waar ek weggekruip het vir mens en wereld.
Ek besef dat die ander partye in die saak nog nooit dit as traumaties ervaar het nie en ek die enigste is wat trauma beleef en van koers is. Dit maak my woedend. Dit het my laat besef dat ek alleen erns gehad het met my huwelik. Dat ek die hele tyd teen satan self alleen baklei het.
Om te oorleef moes ek vergewe: Eks, skoonma, skoonsuster, stiefdogter. By wie begin jy en wie los jy uit?
Vergifnis is 'n verskriklike werk. Jy moet reg by die begin begin en niks uitlos nie, wat natuurlik baie tyd vat, want snags as die res van die wereld slaap, kom al die spoke uit, een vir een, om jou te teister.
Gedurig dink jy. Gedurig wonder jy of jy nie meer moes doen, meer moes opvreet, net om die vrede te bewaar nie.
Uiteindelik, op 'n dag, besef jy dat dit nie net jou skuld was nie. Daar was after all vier ander partye in die fight - vier teen een. Hoe kon ek wen?
Ek moes finansieel, sonder enige hulp behalwe my seun wat blyplek gegee het vir myself en die paar bokse waarin ek 'n paar goed gegooi het, weer die mas opkom. Byplek is vreeslik duur en ek verdien omtrent net soveel soos wat 'n enkel-woonstel kos. Sprake van 'n motor is daar nie. Nou nog nie, maar dit is die minste van my bekommernisse op hierdie tydstip.
Wat ek wil se is, ek het vergewe. Ons het almal ons swakhede. Sommige s'n is net meer intens as ander s'n.
Maar vergeet? Nooit. Ek sal altyd die herinneringe he van 'n huwelik wat nie gewerk het nie.