Author Topic: Kerrie Braai...  (Read 2343 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Kerrie Braai...
« on: December 07, 2011, 06:19:10 AM »
Die Kerrie wat toe ‘n braai word..
So ry JP en Susan sommer van die stad af na haar plek,(hulle werk saam) en ek en Landi drink eers koffie by my kantoor.  Ons durf die verkeer aan en JP skakel later om te hoor wat van ons geword het. Nee, praat ek, ons sit erens op ‘n oorbrug en bewonder die Berg.  Sien julle so oor ‘n halfuur.  Wat, sêg  JP,  julle is dan sommer net hier?  Hoe kan dit julle nog ‘n halfuur vat om hier te kom?  Nee, sêg ek, die karre is baie hier op die M5 en hulle ry staaaadig.
Ons verwag mos nou die Kerrie, sien.  Mos genooi vir Kerrie so op die Maandag na die naweek, maar wat is dan nou beter as om jou week so te begin met ‘n lekker samesyn en wyn? Maak die week sommer kort.  Of sal ek sê die naweek lank?
So kom ons daar en ons ruik die vuurtjie in die agterplaas.  Susan worstel in die hitte van die dag in die kombuis met jassie-aartappels in die oond en ‘n kastrol op die stoof.  So loer ek in die pot, (ongeskik, ek weet, maar dis Su se plek en daar mag jy maar loer) en sien hoenderstukke in ‘n pot vol sous wat lyk soos ‘n mengsel van haar koskas.  Oe, sêg ek, maar ek bedoel dit nie, want ek soek daai Kerrie.  Gooi, sêg sy  terwyl sy ‘n broer van Excelsior in my hanne druk. Landi druk die bos blomme wat ons saam gebring het, in ‘n vaas.  Pragtig.
Wag, sêg Su, sy gaan die stoof aansit dat die hoender en sous kan gesels.
So kuier ons en trek stoele nader na die vuurtjie en die rooietjie blink alte mooi in die glasies .  Die duiwe koer-koer in die baie bome in haar tuin en ek wonder wanner die goed gaan poep op my kop, maar dit gebeur ook nie.  ‘n Hadeda-paartjie kom klim ook in die boom en Gremlin en  Skilpad, die katte,  kom skuur teen ons bene.  (Hierdie tuin met baie bome en duiwe is ‘n regte katte-restaurant).
Wag, sêg ek, ek gaan gou kyk na die kastrol op die stoof, want die hoender moet nog aangejaag word rooster toe.  Die plaat is bloedrooi en die kastrol staan eenkant en rus.  So skuif ek maar die kastrol op die rooi plaat en skakel ‘n plaat aan en ‘n ander een af.  So klink die glasies en die vreugde van vrinne en kinners en die duiwe koer en die Hadeda’s ha. (Ek het al ‘n paar keer gaan house sitting doen vir haar as sy die pad vat Ingeland of Botswana of Onrus toe.  Vroeg vroeg soggens  koer daai duiwe jou jou salig wakker).
Wag, sêg ek, laat ek gaan kyk na daai hoenderboude wat so gesels met die sous.  Anner plaat is bloedrooi en die hoender verkluim nog steeds in die kastrol.  Nee hel, sêg Su, wanneer eet ons vanaand as daai hoender eenkant staan en verkluim? 
So bring sy nog ‘n Excelsior broer na vore en ons ginnegaap terwyl ons wag vir daai hoender en ons solank die broers  besing.   Ek gaan die slaai maak, sêg ek en ons gooi die klomp goed in ‘n bak en siedaar.  Su haal ‘n paar plat knoffelbrode uit ‘n bruin papiersak en ons monde begin water, want ons het ons ingegord die hele dag vir die Kerrie.
Hierts, sêg Su, die hoender het gepraat.  Kom ons gooi hom nou op die kole.
Die geur van daardie sous is ‘n droom.  Ons kook die hoender se boude in daai sous en toe gooi ons die boude op die rooster dat hulle sis.  JP moet net keer of dit brand en ek sprinkel maar die watertjies vir die vlammetjies wat so dans terwyl ons heerlik saam syn.
Die hoender was heerlik saam met die platbrood en jassie-aartappeltjies.  Ons monde is blink van die ryk sous, maar ons worry nie een nie. En uit kom ‘n Hanepootjie om die hoender mee af te sluit. Ek e-mail vandag vir JP en sê kry daai risip by Su ek wil hoender in die oond gooi die naweek.
Jy kan hoenderboudjies in hierdie mengsel sit in ‘n toe oondbak en teen 190˚ vir ‘n uur bak.

Halwe koppie mayonnaise                                     Twee teelepels kerriepoeier             
Kwart koppie chilli chutney                                    Een pakkie bruin uie soppoeier
Skoot balsamic vinegar                                         Skoot olyfolie

Meng en gooi oor hoender.  (‘n ‘Skoot’ is….  Soveel soos jy dink, ek dink).

Vemore moes ek, soos die sprinkaan in Deuternomium, of was dit Eksodus? my moeë lyf uit die bed sleep tot by die ketel vir daai eerste koffietjie.  Ek dink nou net, daai sprinkaan kon dalk in Numerie ook gesleep het.

elle

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 657
  • Taranee, onse Beertjie.
Re: Kerrie Braai...
« Reply #1 on: December 07, 2011, 08:48:39 AM »
Dit klink alte lekker gaan hom probeer.
 :angel12:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: Kerrie Braai...
« Reply #2 on: December 07, 2011, 09:30:21 AM »
Kostelik geskryf Ella.  Dankie dat ons lekker kon saam kuier.  Ek sal ook die sousie probeer.  Soek alewig na iets nuuts om te kook.  Na 45 jaar se gekokery raak kosmaak 'n groot pyn in die nek. 
Om te weet is om te verstaan.