Toe ons mekaar ontmoet het, vertel sy vir my, was ek baie lief vir hom en sy kind, en dié ook vir my. Ongelukkig, is ons toe getroud, en die klein "engeltjie" het ontaard in 'n "duiweltjie".
Hy het om elke hoek en draai gekyk waar hy my en sy pa uitmekaar kon dryf. Hy het nie net vir ons twee teen mekaar probeer afspeel nie, maar sy eie ma het ook in die slag gebly. Hy sou enigiets doen om sy sin te kry. Hy was dan die arme "agtergeblewene". Die kind wat van 'n "liefdevolle ouerhuis" ontneem is. In stede daarvan om te besef dat hy nou twee, twee werklike liefdevolle ouerhuise het, het hy alles in sy vermoë probeer om dit uitmekaar te ruk. Hoe kan iemand dit durf waag om gelukkig te wees! Hy is dan sielsongelukkig! Twee ma's en twee pa's, waar het jy nou ooit daarvan gehoor!
Staan jy 'n kans? Jy wat 'n stiefma of 'n stiefpa is. Staan jy 'n kans?