Ek werk vir ‘n groot maatskappy met drie divisies waarvan ons een van die vyf afdelings is in een van die divisies. Begin van die jaar trek een van die afdelings by ons in die kantoor in en ons moet almal ons boude rondskuif om in te pas. Na ‘n week is ons lekker gesellig saam en geen nonsense word aangemeld nie. Hulle trek swaar, daarom die oorskuif na ons sodat kostes bespaar kan word.
Verlede week hoor hulle dat al die takke oor die land in Hoofkantoor moet wees op Maandag.
Jy kan die spanning sien en aanvoel. Hulle weet wat gaan kom, hulle het dit verwag. Dit is stil in die kantoor en almal wil weet of ek nog niks gehoor het nie, is daar nog geen nuus nie. Ons wag en hoop vir die beste.
Laat namiddag kry ek ‘n e-pos van my kind… dit gaan nie goed in die maatskappy nie ens ens. Ek voel die knyp in die ekonomie aan my hart ruk. Wat nou?
Vanoggend is die sekretaresse daar voor haar rekenaar met opgepofde oë en ek hoef nie eens te vra wat gebeur het nie.
Hulle maak einde November klaar.
Ek weet nie wat om vir my kollegas te sê, behalwe dat ek so sad is dat dit met hulle gebeur. Daar is trane in die kantoor toe hulle begin om files en mandjies deur te kyk vir wat hulle solank kan wegpak.
My kind voel beter vandag. Hy’s kalm en kan besluite neem. Gelukkig het hulle nog nie daardie volgende epos gekry nie, maar wie weet hoe lank dit sal duur voor dit deurkom? Saam besluit ons dat hy solank CV op datum kry en nie te wag nie, maar solank begin voelers uitsteek na ‘n nuwe pos. Die kinders wil volgende jaar trou en ek dank God dat dit nou gebeur het en nie daarna nie.
Die verswakking in die ekonomie verlede jaar het niemand na aan my geraak nie en ek was so bly daaroor. Nou gebeur dit op een dag met mense baie na aan my. Al wat ek kan doen, is om saam met hulle deur die tonnel te stap tot ons by die lig uitkom.
Hierdie goed gebeur met enigeen, met groot maatskappye wat jy nie gedink het ooit sal wankel nie.