Wolf, wolf!
(Waarskuwing – hierdie stuk is geskryf toe ek erg bemoerd was. Die taalgebruik is dus nie vir sensitiewe lesers bedoel nie. As jy nie van peper op jou kos hou nie, hou verby.)
Ons ken almal die bekende sprokie: “The boy who cried Wolf!” Net om die geheue te verfris, kortliks die storie – Die seuntjie het die dorpie se bokke opgepas. Dit is op sy beste seker maar ‘n vervelige takie en soos ek gesonde seuntjies ken, was hierdie enetjie seker ook maar gou verveeld. In sy soeke na iets om te doen, kry hy toe die gedagte om die dorpie se mense ‘n streep te trek. Hy skree uit volle bors: “Wolf, wolf!” Die manne haas hulle natuurlik na die weiveld om hom te help en toe hulle daar kom, lag die klein bogger sy longe uit. Vies vir die vals alarm, gaan die mense terug en die mannetjie doen sy werk, maar die gort was nou gaar. Kort – kort geniet hy dus sy plesiertjie om die mense die skrik op die lyf te jaag. Einde ten laaste, besluit die manne van die dorp dat genoeg nou genoeg is. In die storie se tyd het hulle seker ook geglo dat kinders ‘n sielkundige knou sal kry as hulle slae kry, want as hy my seun was, het sy gat lankal gebrand. Hoe dit ookal sy, hulle is ‘n paar keer gevang deur sy poets. Eendag kom daar toe rêrig ‘n wolf en toe die kind weer “Wolf, Wolf!” skree, dink die mense dis weer een van sy streke en gaan help hom nie. Die wolf het dus heerlik fees gevier tussen die bokke. The moral of the story soos die Engelsman sê, is dus dat mens nie simpel grappe maak oor ernstige sake nie. Ernstige sake bly ernstige sake en word as ernstige sake hanteer, punt.
Ons hoor die storie en maak dit af as net nog ‘n kinderstorie. Sulke goed gebeur gelukkig net in storieboeke, maar dit is waar ons die fout maak. Kom die besef met die ouderdom? Kom dit dalk met wysheid en lewenservaring of raak mens meer idioties met ouderdom? Ek weet nie, maar ek dink dit is omdat ouer mense nie meer in sprokies glo nie. Hulle weet mos nou al dat die werklikheid anders is en dat dinge nie altyd goed uitwerk nie. So merk ek nou deesdae die seun met sy poetsbakkery oral in ons siek samelewing op.
In Putsonderwater bly Hannie Hormoon. Sy het pas 15 geword en is in die koshuis op die dorp. Mnr Spiertier en sy gesin word aangestel as die plaaslike koshuisvader. Hy het ‘n pragtige, swanger vroutjie en twee witkop seuntjies. Hannie se hormone “rave” dadelik toe sy vir mnr Spiertier sien. Sy giggel saans in die bad as sy aan hom dink en vroetel op kielierige plekkies as sy in haar bed lê. In haar drome doen mnr. Spiertier goed met haar wat sy in die boekie lees wat haar ma vir haar gekoop het. Haar ma is die voorsitster van die VLV op Putsonderwater en haar pa hoofouderling. Hannie weet sy mag eintlik nie “daar” vat nie,want haar hand sal afval, maar mnr. Spiertier wil niks hoor van uitlos nie – dit is nou in haar drome natuurlik. In die harde werklikheid, sien mnr Spiertier haar nie eers raak nie.
Hannie raak desperaat, want haar gewete kuil haar op oor die vattery snags en haar lus raak al hoe dringender. Dus begin sy openlik met die mooie meneer flirt. Sy doen takies vir hom en sorg dat hy haar sien wanneer hulle by die skool in sy klas is. Eendag vra sy hulp met wiskunde en die niksvermoedende man stem in om te help. Toe almal uit is, maak sy die deur toe en skuur teen hom. Hy beveel haar om by haar bank te sit, maar sy skuif nader. Mnr Spiertier ken moeilikheid as hy dit sien en hy ruik boonop haar hormone ver bo haar goedkoop spuitgoed verby. Hy vermaan haar dus in streng skoolmeneer stem om haar te gedra en vra haar streng, dog beleefd om haarself uit sy klas te verwyder. Hannie Hormoon se hormone, wat reeds begin uitlek het, is ontstoke. Met ‘n rooi gesig storm sy koshuis toe en op haar bed vroetel sy nie meer nie. Nee, sy listige beraam planne om hom terug te kry.
Nie lank nie, of die hele dorpie gons oor Mnr Spiertier wat so geheimsinnig getrek het. Hulle hoef egter nie lank te wag nie, want die hoofouderling se frons tussen sy oë lyk soos die Grand Canyon en sy vrou se lippies is so dun soos polonieskyfies. Die saak kom Maandag voor, want mnr Spiertier het Hannie mos gemolesteer. Om die storie kort te knip – die hof het hom onskuldig bevind, want Hannie se gewete het haar gery en in trane het sy erken dat dit onwaar was. Sy is verlief op hom en hy wou niks weet nie. Hannie is na ‘n ander skool gestuur en ma en pa het hulle erfgrond verkoop en woon nou as onbekendes in ‘n ander distrik. Wat sal gebeur as daar by die nuwe skool ‘n onderwyser is, wat self hormoongedrewe is? Sal mense haar “Wolf, wolf!” dan glo? En Mnr. Spiertier? Hy en sy gesin sal lewenslank die knou van Hannie se hormonale leuens met hulle saamdra.
In Sodom, woon mev. Wiesenaam. Jare gelede was sy die mooiste vrou in die stad. Geld was daar volop soos druppels in ‘n wolk en aandag genoeg. Die manne het in meer as een opsig op aandag gestaan as sy nader kom. Ongelukkig het die jare nie simpatie met ‘n mens nie en mev Wiesenaam het ook nie haarself gebly nie. In die ouderdom waar die meeste mense vrede met hulself ervaar en hulle gevestig is in hulle lywe, het sy ontdek dat sy vasgehaak het by die verlede. Sy wou nog steeds kies en keur wie haar aandag werd is en sy wou nog steeds hê die manne moet swymel by aanskoue van haar skoonheid. Manne ouer as sy was nou al onkapabel, so sy moes haar antennas in jonger manne se rigting draai. Jonger manne streel mos darem ‘n ou vrou se ego man. Bring die jeug soortvan terug. So ontmoet mev Wiesenaam toe haar volgende prooi - Mnr. Blinkoog. Hy is ‘n mooie man, ook al in sy slim jare, maar ongelukkig ene met aanhangsels. Dit het haar nog nooit afgeskrik nie en sy gaan dit ook nie nou toelaat nie. So begin sy subtiele en later meer direkte seine in sy rigting stuur. Mnr. Blinkoog is vriendelik, maar versigtig. Hy behandel haar soos sy ander vriende.
Maande lank (of was dit nou weke lank) beraam sy allerhande planne, maar mnr Blinkoog is ‘n bliksem; ‘n slim bliksem wat die lewe en sy fyner draaitjies goed ken. Hy val nie vir listige plannetjies nie. Hy is tevrede met sy eie hoenderhok. Hy is egter ook ‘n fyn opgevoede man wie se moeder hom wel deeglik geleer het van goeie maniere, barmhartigheid en al daai goeie eienskappe en toe mev Wiesenaam haar listige plan uitvoer, skop sy opvoeding in. Hy vergeet dat hy ‘n bliksem is en haas die dreigende selfmoordpoging te hulp. Daar gekom, sien hy die hinderlaag en probeer so vinnig moontlik ‘n u-draai maak. Jy ruik net “tyres” soos sy skoene rem skop op die teëlvloer en sy voete maal soos ‘n “cartoon” karakter bo die vloer toe hy begin weghardloop. (Voorval effe aangedik vir visuele genot)
‘n Bekaf mev. Wiesenaam bly agter, met haar ego in skerwe, haar hormone skoon deurmekaar en haar bloeddruk ver bo die veilige norme. Sy skree dadelik Wolf, wolf en vertel vir almal wat ore het van die “mannetjie” wat by haar kom aandag soek het. ‘n Hele paar lasterlike en selfs beledigende byvoeglike naamwoorde word ook geopper. Onglukkig vir haar, is dit nie die eerste keer wat sy wolf, wolf skree nie en van haar vorige slagoffers maak stem dik. Natuurlik herken hulle die omstandighede en die modis operandi teen hierdie tyd en kan hulle vir mnr. Blinkoog gerusstel en van welkome raad voorsien. Hy is nie die eerste slagoffer nie. Wat sal gebeur as daar weer ‘n man met die nodige regop figuur op die horison verskyn? Sê nou net hy stel intens belang in ‘n lyf wat nie in hom belangstel nie? Sal iemand dan die wolf, wolf glo en kom help?
Op Plekkie-by-die-see woon Sarel Sangstem. Die mannetjie sing soos ‘n engeltjie vir sy moeder en sy vertel wyd en syd hoe ‘n bekende sanger hy nog eendag gaan word. Op ‘n mooi dag kom daar ‘n bekende sanger optree en na die vertoning vat mev. Sangstem haar engeltjie om die sanger te ontmoet. Die man het seker ‘n goeie hart, want hy onderneem om vir Sarel sanglesse te gee. Sarel en moeder trek stad toe en hy begin lesse neem. By gebrek aan ‘n vaderfiguur in sy lewe, begin hy snaakse gevoelens teenoor die leermeester ontwikkel. Omdat hy nie die verskil tussen verliefheid en broederlike liefde ken nie, sien hy elke gebaar van sy leermeester vir ‘n “lover” se liefde aan. Hy kom toe met ‘n skok agter dat sy idee van liefde nie deur sy leermeester ondersteun word nie, want die man trou met ‘n vrou en het kinders. “Wolf, wolf!” skree Sarel Sangstem, toe dit lyk of die man gelukkig is. Hy het my gemolesteer terwyl ek ‘n jong seun in sy huis was. Ons het ‘n verhouding gehad! Mamma Sangstem verskyn op die voorblad van elke koerant met krokkodiltrane in die oë. Die hof bevind die sanger onskuldig. Waar gaan Sareltjie weer die kans kry om Wolf, wolf te skree? Gaan die mense hom volgende keer glo?
Wat wil ek nou eintlik hiermee sê? Moenie met ernstige goed spot nie. Dink aan die moontlike gevolge voor jy jou hormone vrye teuels gee. “Get a freaken life!” Vroetel noodgedwonge liewer saans in jou bed as wat jy onskuldige mense se lewens verwoes. Jy gaan seerkry en jy gaan baie seerkry as jy wolf wolf skree en daar telkens net ‘n “Joker” op jou voorstoep gevind word. Die dag as daar regtig ‘n wolf opdaag, gaan jy jou gat sonder ‘n spieël sien en niemand gaan jou krete glo nie.